Nuus 13:00
BULLETIN 15 Mei 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum vra duidelikheid oor die diplomatieke status van die uitleweringspogings vir die Guptas
# Gaza se hulpflottielje vaar weer nadat Israel hom onderskep het
# En krieket: CSK bekom die veelsydige Suid-Afrikaanse speler Dian Forrester as plaasvervanger vir die beseerde Jamie Overton
# AfriForum sê die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, moet duidelikheid verskaf rondom die huidige status van pogings om die Gupta-broers uit die Verenigde Arabiese Emirate te laat uitlewer. Die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie het verlede jaar verklaar hy sal ‘n nuwe aansoek indien vir die uitlewering van Rajesh en Atul Gupta, wat verdink word van betrokkenheid by staatskaping. Jacques Broodryk van AfriForum sê Mothibi moet aandui wat die uitleweringsproses belemmer:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika se produksiegroei moet beloon word met groter diplomasie en infrastruktuur-ondersteuning. Dit volg nadat die land Spanje amptelik verbygesteek het as grootste sitrus-uitvoerder, met 2,9-miljoen ton in 2025. Dit word toegeskryf aan Spaanse boere wat toenemend probeer aanpas by ingewikkelde klimaatstoestande. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê Suid-Afrika en Spanje speel aanvullende rolle op die wêreldmark:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika het Charles Shilowa aangestel as waarnemende uitvoerende hoof met ingang 1 Julie, terwyl ‘n formele proses aan die gang is om ‘n permanente hoof aan te stel. Die huidige ampsdraer, Mpumi Mpofu, sal einde Junie aftree ná ses jaar aan die stuur van die staatsbeheerde instelling. Shilowa dien tans as groep-uitvoerende-bestuurder vir kapitaal-infrastruktuur-batebestuur. ACSA se raadsvoorsitter, Irvin Phenyane, het Mpofu bedank vir die leiding deur ‘n ongekende tydperk in die wêreldwye lugvaartsektor.
Nuus uit die buiteland:
# Skepe van die Global Sumud-flottielje het ‘n derde keer vanaf die suide van Turkye gevaar nadat Israel vroeëre pogings om hulp aan Gaza te lewer, in internasionale water onderskep het. Die flottielje het op 12 April uit Spanje gevaar, maar Israelse magte het vaartuie onderskep, meer as 100 pro-Palestynse aktiviste na Kreta geneem en twee ander aangehou. Aktiviste sê hulle moet Gaza bereik om broodnodige hulp aan die gebied te verskaf, terwyl wêreldwye aandag verskuif het na die uitwerking van die Iranse oorlog.
# Krieket: Die vyfmalige kampioen, Chennai Super Kings, het die veelsydige Suid-Afrikaner Dian Forrester opgeroep om die beseerde Brit Jamie Overton te vervang vir die res van die Indiese Premierliga-seisoen. Overton se 14 paaltjies is CSK se tweede-meeste hierdie seisoen. Hy moes weens ‘n beenbesering onttrek. Die 24-jarige Forrester het sy eerste internasionale wedstryd in Maart vir Suid-Afrika gespeel teen Nieu-Seeland. Hy sluit by CSK aan teen ‘n bedrag van ongeveer 1,3-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-37 teen die euro en 22-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-547-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-552-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 105-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….