Nuus 13:00
BULLETIN 26 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse president Donald Trump prys sy veiligheidspan ná ‘n voorval tydens ‘n Withuis-media-dinee
# Die Kommunikasiedepartement ondersoek bewerings oor vals verwysings in die KI-konsepbeleid
# En, sokker en tennis in sportnuus
# Amerikaanse president Donald Trump het sy veiligheidspan geloof vir hul vinnige optrede en die inhegtenisneming van ‘n 31-jarige man ná ‘n sluipmoord-poging tydens die Withuis-korrespondentevereniging se dinee. Trump sê agente het vinnig en professioneel opgetree om die situasie te ontlont. Hy sê die reaksie toon die hoë vlak van beskerming en het bevestig die voorval sal hom nie daarvan weerhou om sy pligte voort te sit nie:
# Die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë sê hy is bewus van berigte dat sommige bronne wat in die konsepbeleid oor Kunsmatige Intelligensie aangehaal word, vals mag wees. Minister Solly Malatsi het die dokument vir openbare kommentaar gepubliseer. Dit het ten doel om verantwoordelike KI-gebruik en ekonomiese groei te lei. Volgens berigte in News24 is sekere verwysings dalk deur KI gegenereer, wat kommer laat ontstaan oor geloofwaardigheid. Die departement sê hy sal reageer te midde van toenemende ondersoeke na bestuur en navorsingstandaarde.
# Die massabegrafnis vir sewe lede van die Monswamy-gesin is aan die gang op die Stanger High Sportterrein in KwaZulu-Natal. Die gesin is uit hul KwaDukuza-huis ontvoer en later in Melmoth vermoor. Die moorde het plaasgevind dae nadat die gesin hul seun, Kraidon, en sy verloofde Melissa se verlowing gevier het. In ‘n onderhoud met Newzroom Afrika het die adjunkvoorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Les Govender, onthul dat een verdagte vir die familie-onderneming gewerk het:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing uitgereik vir skadelike wind in dele van die Wes- en Noord-Kaap. ‘n Sterk noordwestewind van tot 65 kilometer per uur, met rukwinde van tot 75 kilometer word verwag. Gebiede wat geraak word sluit in, Namakwa, Sentraal-Karoo en Breedevallei. Owerhede waarsku teen moontlike infrastruktuurskade en reisontwrigtings, en vra inwoners en motoriste om versigtig te wees.
# Tennis: Iga Swiatek is Saterdag weens siekte gedwing om haar wedstryd teen Ann Li in die Madrid Ope te laat vaar. Swiatek was in 2024 ‘n kampioen in die Spaanse hoofstad en het ná ‘n agterstand van een stel teruggeveg om die stryd gelykop te maak, maar was 0-3 agter in die beslissende stel toe sy die wedstryd laat vaar het. Die Poolse sesmalige Grand Slam-kampioen het op die oog af gesukkel en vir ‘n dokter gevra nadat sy vroeg in die derde stel haar afslaan verloor het. Dit is Swiatek se vroegste uittrede ooit in vyf verskynings in Madrid.
En, sokker: Sokkerondersteuners het begin opdaag by die FNB-stadion in Johannesburg vir Suid‑Afrika se grootste sokkerkragmeting tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates om 3-uur vanmiddag. Pirates wil hul titelwedloop ‘n hupstoot gee met Mamelodi Sundowns wat twee wedstryde minder gespeel het, maar steeds voorloop. Daar is nog twee wedstryde in die Betway‑Premieliga oor, met Amakhosi wat mik na ‘n CAF‑kwalifikasie. Chiefs lei die geskiedkundige en vurige stryd tussen twee van Afrika se gewildste spanne met 75 oorwinnings teenoor Pirates se 50.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….