Nuus 08:00
BULLETIN 27 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# KwaZulu-Natal se premier beloof om borgtog teen te staan in die Monswamy-massamoordsaak
# Padwedlope: ‘n Nuwe mansrekord vir Sawe in die Londense Marathon
# En Suid-Afrika besin op Vryheidsdag oor meer as 30 jaar van demokrasie
# KwaZulu-Natal se premier, Thami Ntuli, sê die regering gaan môre in die KwaDukuza-landdroshof borgtog teenstaan vir drie verdagtes wat aangekeer is vir die moord op sewe lede van die Monswamy-familie. Ntuli het tydens die massabegrafnis bevestig die polisie het die voertuig gevind wat met die saak verband word en soek voort na die vierde verdagte. Hy het die gemeenskap verseker alle hulpbronne word ingespan om die oortreders vas te trek:
# Die ACDP het Stad Johannesburg gevra om nie meer lenings uit te neem nie en waarsku dit is onvolhoubaar. Woordvoerder Chris Rohlssen sê die stad word meer as 71-miljard-rand geskuld en vra skuldinvordering moet nou voorkeur kry. Hy is ook bekommerd oor ‘n verwerpte leningsversoek aan die Franse Ontwikkelingsagentskap omdat die stad nie kon voldoen aan die voorwaardes van ‘n lening van 2,5-miljard-rand van hy in 2024 bekom het nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse regering is in noue kontak met Amerikaanse sekerheidsdienste voor koning Charles se besoek aan die Verenigde State hierdie week, na ‘n skietery tydens die Withuis-korrespondente se dinee. Die eerste minister se kantoor het aan Sky News gesê omvattende gesprekke is reeds tussen die twee regerings aan die gang, wat oor die komende dae sal voortduur. Charles en sy vrou, Camilla, sal vandag in Amerika aankom vir ‘n vierdaagse reis wat ‘n privaat vergadering met president Donald Trump en ‘n toespraak voor die Kongres insluit.
# Padwedlope: Sabastian Sawe is die eerste man wat ‘n marathon in onder twee-uur voltooi het. Die Keniaan het die Londense Marathon in een-uur-59-minute-30-sekondes gewen en sy oorlede landgenoot Kelvin Kiptum se rekord van 2023 met meer as ‘n minuut verbeter. In die vrouewedloop het die Ethiopiër Tigst Assefa haar eie rekord verbeter toe sy die wenstreep binne twee-uur-15-minute-41-sekondes oorgesteek het om haar titel te behou. In die mans-elite-rolstoelwedren het Marcel Hug van Switserland die rekord van agt titels geëwenaar. Sy landgenoot, Catherine Debrunner, het die vroue-rolstoelwedren gewen.
# En ten slotte: Suid-Afrika vier vandag Vryheidsdag, wat meer as drie dekades sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 herdenk. Die nasionale viering word in Bloemfontein gehou onder die tema “Vryheid en die Oppergesag van die Reg: Dertig Jaar van Demokratiese Burgerskap.” Die dag herdenk die geskiedkundige verkiesing van 1994 wat apartheid beëindig en ‘n demokratiese bewind gevestig het. Hoewel demokrasie gevier word, is daar steeds uitdagings soos werkloosheid, ongelykheid, misdaad en regeringsmislukkings wat ‘n demper plaas op die land se voortdurende strewe na ware vryheid en gelykheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….