Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA wil hê die O-V-K moet die ANC-skikking met Ezulweni Investments ondersoek
# Green Connection is tevrede dat Karpowership sy plek in die netwerk kwyt is
# En, rugby: Die Walliese en Leeus-legende J-P-R Williams sterf op 74
# ActionSA sê hy het ‘n skrywe gerig aan die OVK se uitvoerende hoof vir party-befondsing, George Mahlangu, om ondersoek in te stel na die ANC se vereffening van skuld van meer as 102-miljoen-rand aan Ezulweni Investments. Die ANC het in Desember verlede jaar ’n skikking buite die hof bereik met Ezulweni Investments, oor ’n omstrede 2019 kontrak vir verkiesingsmateriaal. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê Suid-Afrikaners moet weet hoe dié skuld vereffen is en of dit ingevolge ‘n wettige reëling vereffen is:
# Die Green Connection sê hy is tevrede dat Turkye se Karpowership sy plek wat Eskom vir hom in die netwerk uitgehou het kwyt is omdat hy die finansiële spertyd van 31 Desember misgeloop het. Karpowership het verlede jaar vir ‘n tydperk van 20 jaar toegang verkry tot drie hawens – Durban, Ngqura en Saldanhabaai – as deel van die oplossing vir die land se energiekrisis. Liz McDaid van Green Connection sê Karpowership was ‘n duur en omstrede projek:
# Die bedanking van die eerste minister van Frankryk, Élisabeth Borne, maak dit na berig word moontlik vir president Emmanuel Macron om sy kabinet te skommel voor die verkiesing van die Europese Parlement later vanjaar. Sy was die tweede vroulike eerste minister in Frankryk se geskiednis en het minder as twee jaar gedien. Ondanks Borne se relatief kort ampstermyn hou sy die rekord as die langsdienende vroulike eerste minister, langer as Édith Cresson s’n van 1991 tot ’92.
# Rugby: Die Walliese en Britse Leeus-legende, J-P-R Williams, het gesterf op die ouderdom van 74. Die heelagter was een van die uitblinkers van die Leeus-toer van 1974 in Suid-Afrika wat alles voor hom platgevee het en 21 van sy 22 wedstryde gewen het. Die laaste toets teen die Springbokke was gelykop. Williams het ook vir die Leeus gespeel in hulle toer in Nieu-Seeland in 1971. Hy het Wallis 55 keer verteenwoordig tot sy uittrede in 1981, waarna hy sy loopbaan as mediese dokter voortgesit het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-554-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-16-sent per vat.
# Ten slotte: Globale verhitting weens die verbranding van fossielbrandstowwe wat deur die El Niño-weerverskynsel vererger word, gaan die temperature in Mei tot 1,7-grade Celsius bo die gemiddeld voor industrialisasie laat styg. So waarsku ‘n voormalige wetenskaplike van die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimte-administrasie, James Hansen. Regerings wat verlede maand die Verenigde Nasies se klimaatsberaad in Dubai bygewoon het, het die Paryse Ooreenkoms van 2015 bevestig om die wêreldwye styging in temperature onder 1,5-grade te probeer hou. Hansen sê doelgerigte pogings is nodig om die wêreld se energiebalans te behou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….