Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Phaahla kondig nog ‘n A-pokke-geval en sterfgeval aan
# Nog ‘n vloedslagoffer se liggaam word in Kariega gevind
# En, krieket: Die Wes-Indiese Eilande is deur na die T20-Wêreldbekertoernooi se Super 8
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het bekend gemaak daar was nog ‘n laboratorium-bevestigde geval van A-pokke en ‘n tweede sterfte wat met die siekte verbind word. Die jongste geval is ‘n 38-jarige man wat in ‘n hospitaal in uMgungundlovu, Kwa-Zulu-Natal, opgeneem is en gister positief getoets het vir A-pokke. Hy is dieselfde dag dood. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê dit bring die getal positiewe gevalle in die land binne vyf weke op ses te staan, met twee sterfgevalle:
# Die Oos-Kaapse polisie het nog ‘n slagoffer se liggaam gevind ná die verwoestende oorstromings wat Nelson Mandelabaai twee weke gelede getref het. Dit bring die dodetal op elf te staan. Meer as drie-duisend mense is dakloos gelaat. Die polisiewoordvoerder, Priscilla Naidu, sê die liggaam is in die Swartkopsrivier by Kariega gevind, een van die gebiede wat die ergste deurgeloop het:
# Die Grensbestuursowerheid sê hy bly verbind tot die beskerming van die 71 grensposte terwyl hy die wettige beweging van goedere en dienste hanteer. Die owerheid se woordvoeder, Memme Mogotsi, sê junior grenswagte het ‘n aansienlike hoeveelheid alkohol onderskep tydens ‘n wetstoepassingsoperasie op die Lebombo-grenspos in Mpumalanga . Sy sê dit was onder sakke steenkool en pakke blaarslaai versteek in ‘n minibustaxi van Mosambiek :
# Griekeland se gewildste toeristebestemming, die Akropolis in Athene, was gister tydens die warmste ure van die dag gesluit. Die land het sy vroegste hittegolf ooit ervaar, wat tot skoolsluitings en gesondheidswaarskuwings gelei het. Die ministerie van Kultuur sê die Unesco-terrein sou van 12-uur tot 5-uur die middag sluit, met temperature wat na verwagting vandag ook 43-grade Celsius sal bereik. Die eerste hittegolf van die jaar in Griekeland, wat gereeld tot verswelgende somertemperature lei, sal sy hoogtepunt oor die twee dae bereik, wat tot nog sluitings kan lei.
# Krieket: Die Wes-Indiese Eilande is deur na die Super Agt-ronde van die T20-Wêreldbekertoernooi nadat hulle Nieu-Seeland in Trinidad met 13 lopies verslaan het. Sherfane Rutherford het ʼn onoorwonne 68 aangeteken en die mede-gasheer het 149 vir nege bereik. Die snelbouler Alzarri Joseph het daarna vier paaltjies platgetrek, en die draaibouler Gudakesh Motie drie. Die Swartpette kon net 136 vir nege haal. Nieu-Seeland moet in sy oorblywende wedstryde met Uganda en Papoea-Nieu-Guinee afreken en hoop ander uitslae is in sy guns.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-470-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-317-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-13-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….