Nuus 12:00
BULLETIN 22 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse Drankraad verwelkom die skuldigbevinding van die Enyobeni-taverne se eienaars
# Freedom Under Law sê Hlophe en Motata se verwydering is ‘n hartseer dag vir die regbank
# En, tennis: Alcaraz is vol vertroue oor Indian Wells-deelname ondanks sy enkelbesering
# Die Oos-Kaapse Drankraad verwelkom die skuldigbevinding van die Enyobeni-taverne se eienaars, Siyakhangela en Vuyokazi Ndevu, ná die dood van 21 tieners in Junie 2022. Die egpaar is skuldig bevind omdat hul minderjarige persone in die kuierplek toegelaat en alkohol aan hulle bedien het. Die hof het beslis hulle het die Oos-Kaapse Drankwet oortree deur te versuim om minderjariges te verhoed om binne te gaan. Die raad se woordvoerder, Mgwebi Msiya, is tevrede oor die uitspraak en hoop dit sal as afskrikmiddel dien vir ander drankhandelaars:
# Freedom Under Law het die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe en afgetrede regter Nkola Motata se verwydering uit hul amp verwelkom. ‘n Oorweldigende getal parlementslede het ten gunste van ʼn ampsklag teen hulle gestem nadat die Geregtelike Gedragstribunaal hulle aan growwe wangedrag skuldig bevind het. Freedom Under Law sê dis ʼn hartseer dag vir die regbank omdat dit die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis is dat regters weens wangedrag uit hul amp verwyder word. Hy sê dis egter noodsaaklik dat die regbank se integriteit beskerm word.
# Kaapstad sê Turkye hou reuse potensiaal in as ‘n strategiese vennoot vir die stad se ekonomiese groei. Turkye en Suid-Afrika het ‘n sterk toerismevennootskap, met sewe direkte vlugte per week tussen Istanbul en Kaapstad. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, het onlangs ‘n sending na Izmir, Turkye, onderneem. Hy sê Kaapstad is daartoe verbind om ‘n Susterstad-ooreenkoms met Izmir te sluit om nouer bande te bevorder:
# Die verhoor van die rolprent-wapenhanteerder Hannah Gutierrez gaan binnekort begin na die dood van die kinematograaf Halyna Hutchings op die stel van die Western-fliek Rust in Nieu-Meksiko in Oktober 2021. Sy is dood nadat Alec Baldwin haar tydens ‘n repetisie geskiet het, en die akteur en vervaardiger sal later afsonderlik verhoor word. Gutierrez het reeds onskuldig gepleit aan onopsetlike manslag en peutering met bewyse, en die verhoor sal voortgaan wanneer die jurie aangewys is. Aanklaers sê sy het onwetend skerppunt ammunisie op stel gebring tydens ‘n reeks nalatige optredes.
# Tennis: Die wêreldnommer-twee, Carlos Alcaraz, sê hy is vol vertroue dat hy volgende maand wel sal kan deelneem aan die Indian Wells-toernooi. Die Spanjaard het sy regter-enkel verstuit tydens sy openingswedstryd in die Rio Ope in Brasilië, teen die plaaslike speler Thiago Monteiro, en hy moes hom onttrek na slegs twee potte. Alcaraz het een-duisend punte om te verdedig as die heersende Indian Wells-kampioen. Die Indian Wells-toernooi is een van die grootste toernooie naas die vier Grand Slams en begin op ses Maart.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-840-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….