Nuus 11:00
BULLETIN 9 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK verwag nog hofsake oor die indiening van kandidate-lyste
# Trump verbied talle Kanadese invoere terwyl die handelsoorlog verskerp
# En tennis: Sabalenka is op koers vir ‘n derde agtereenvolgende Amerikaanse Ope-titel
# Die Verkiesingskommissie verwag dat meer politieke partye die Verkiesingshof gaan nader oor die indiening van kandidate-lyste. Die ANC daag die OVK se besluit uit om nie sy kandidate in ses munisipaliteite te registreer nie. Volgens die party kon hy kandidate nie registreer nie weens ‘n probleem met die stelsel. Die Verkiesingshof het intussen die United Democratic Front se dringende aansoek om die registrasie van kandidate verwerp. Die kommissie beklemtoon daar was geen probleme met die stelsel wat partye verhoed het om die sperdatum te haal nie.
# Die vakbondfederasie SAFTU sê die jongste bruto binnelandse produksyfers is ‘n rooi waarskuwing van ‘n ekonomiese ramp wat besig is om te ontvou. Suid-Afrika se ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,2-persent gekrimp, met drie sleutelnywerheidsektore, mynbou, vervaardiging en handel, wat tot negatiewe nasionale groei gelei het. Asive Dyani van SAFTU sê dis ‘n ekonomiese ramp vir ‘n land wat reeds sukkel met katastrofiese werkloosheid, armoede, honger en ongelykheid:
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het inligting van die Spesiale Ondersoekeenheid se hoof, Leonard Lekgetho, ontvang oor ondersoeke na beweerde wanadministrasie, bedrog en korrupsie in die naskoolse onderwys- en opleiding-sektor. Meer as twee-miljard-rand van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente is teruggevind by universiteite en kolleges. Woordvoerder Matshepo Seedat sê ʼn uitgawe van 109-miljoen-rand is voorkom deur die kansellasie van ʼn sekerheids-kontrak by die Vaal Universiteit van Tegnologie:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika het reageer op Kanada se jongste tariewe deur ʼn klomp Kanadese goedere, insluitend alkohol- en suiwelprodukte, te verbied. Ottawa se vergeldingstariewe van 15- tot 50-persent op Amerikaanse invoere van byna 320-miljard-rand het gister van krag geword. Die Withuis het verlede maand tariewe van 50-persent ingestel op Kanadese produkte soos wyn, meubels en sporttoerusting. Trump dreig ook om die Amerikaanse regering deur ʼn belangrike federale aankoop-program te verhoed om Kanadees-vervaardigde produkte te koop, tensy Kanada Amerikaanse maatskappye en boere groter toegang tot sy markte gee.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, is steeds op koers vir ‘n derde agtereenvolgende Amerikaanse Ope-titel, en is deur na die halfeindronde. Die verdedigende kampioen het die Tsjeg Linda Noskova geklop in haar 19de agtereenvolgende oorwinning op die toernooi. Sabalenka kom nou teen Jessica Pegula te staan nadat die Amerikaner haar landgenoot Emma Navarro verslaan het. In die mans-afdeling het Frances Tiafoe sy mede-Amerikaner Alex Michelsen in vyf stelle geklop om sy derde Amerikaanse Ope-halfeindstryd te haal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-291-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….