Nuus 12:00
BULLETIN 14 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa en Mashatile is onder die eerste groep nuutverkose LP’s om ingehuldig te word
# Die NFP se sekretaris-generaal Canaan Mdletshe bedank oor die koalisie-besluit
# En, rugby: Nege Springbokke gaan die toets teen Wallis en eerste Ierland-toets misloop
# Die ANC-leiers Cyril Ramaphosa en Paul Mashatile was in die eerste groep van tien nuutverkose parlementslede om ingehuldig te word tydens vanoggend se eerste sitting van die Nasionale Vergadering in Kaapstad. Meer as 300 LP’s moet die ampseed aflê voor die speaker en die president verkies word. Nadat ‘n lid tot president verkies is, is hy of sy nie langer ‘n LP nie. Hoofregter Raymond Zondo is voorsitter van die Nasionale Vergadering se eerste sitting.
Die National Freedom Party se sekretaris-generaal, Canaan Mdletshe, het intussen sy onmiddellike bedanking aangekondig. Dit volg op die party se besluit om ‘n koalisie met die ANC, die IVP en die DA in KwaZulu-Natal te vorm. Mdletshe het op sosiale media gesê die koalisie dien nie die belange van die provinsie se mense nie, maar gaan oor selfverryking. Hy sê hy verlaat sy pos met die wete dat hy die NFP tot die beste van sy vermoë gedien het.
# Die Nasionale Persklub is geskok en hartseer oor die verwagte sluiting van verskeie hoofstroom drukpublikasies van Media24. Dit sluit in Rapport, Beeld, City Press en Daily Sun. Ondanks pogings om klarigheid by Media24 te bekom was die antwoorde onvoldoende. ‘n Woordvoerder van die Persklub, Albi Modise, vra Media24 om met personeel in gesprek te tree om deursigtige prosesse te verseker wat werksverliese sal versag en joernalistieke integriteit behou:
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het bevestig nege spelers sal die eenmalige toets teen Wallis en die eerste van twee toetse teen Ierland misloop weens beserings. Hulle sluit in die gereelde toetsspelers Steven Kitshoff, Lood de Jager, Canan Moodie, Damian Willemse en Kurt-Lee Arendse. Erasmus sê dit is nog onseker of Cheslin Kolbe betyds fiks sal wees vir die toets teen Wallis:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-35-sent teen die dollar, 19-rand-66-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-125-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-319-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: NASA het per ongeluk ‘n mediese oefening amptelik gestroom en groot konsternasie op sosiale media veroorsaak. Die oefening was ‘n nabootsing van ‘n ruimtevaarder op die Internasionale Ruimtestasie wat teen borrelsiekte behandel word. ‘n Vrouestem het aan die bemanning verduidelik wat om te doen. Die klankgreep het vinnig op sosiale media versprei en gelei tot vrese van ‘n ernstige noodsituasie op die stasie. NASA het bevestig die opname is per ongeluk uitgesaai terwyl bemanningslede en grondpersoneel vir verskillende scenario’s in die ruimte geoefen het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….