Nuus 12:00
BULLETIN 12 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika keur steun van 50-miljoen-rand aan Gaza goed
# Tshwane beoog om uitdiensgestelde kragsentrales te laat herleef
# En, krieket: Die Proteas kwalifiseer vir die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Ronald Lamola, het aangekondig Suid-Afrika het 50-miljoen-rand goedgekeur om die mense van Gaza te ondersteun. Hy het ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging gelei na die Gaza-ondersteuningskonferensie in Jordanië. Lamola sê Suid-Afrika steun ook die Internasionale Geregshof se regsverteenwoordiger, Karim Khan, om mense vir die oorlog in Gaza aanspreeklik te hou:
# Die stad Tshwane beoog om uitdiensgestelde kragsentrales te laat herleef. Die Rooiwal- en die Pretoria-Wes-kragstasie wat lank reeds nie meer krag opwek nie, is van die stasies waarvan die planne belowende vordering toon. Privaat sektor-betrokkenheid word verwag deur ‘n huurooreenkoms van 40 jaar, wat ‘n betekenisvolle stap is om die aanlegte weer in diens te stel. Die burgemeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Themba Fosi, sê bedrywighede kan volgende maand hervat:
# Die Wes-Kaap se damme is nou voller na verlede week se eerste winterreën. Die jongste syfers toon die ses grootste damme het ‘n gesamentlike vlak van 65,1-persent teenoor die vorige week se 58,9-persent. Die Theewaterskloofdam wat vir meer as 50-persent van die provinsie se totale damvermoë verantwoordelik is, staan nou op 61,5-persent. Die provinsie se tweede grootste dam, Voëlvlei, staan op 55-persent.
# Krieket: Suid-Afrika het vir die Super Agt-fase van die T20-Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer nadat die wedstryd tussen Sri Lanka en Nepal in Florida weens reën afgelas is sonder dat ‘n enkele bal geboul is. Die Proteas is met drie oorwinnings in drie wedstryde bo-aan Groep D met ses punte, terwyl Bangladesj en Nederland elk twee punte van twee kragmetings het. Suid-Afrika speel Saterdag in Kingston teen Nepal in sy laaste groepswedstryd.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-95-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-481-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte, ‘n derdejaarstudent in Rekenaarwetenskap aan die Walter Sisulu Universiteit het ‘n toepassing ontwikkel waarmee studente hul weg op die kampus kan vind. Sibulele Ngwane sê die Campus Compass is hoofsaaklik ontwerp om veral nuwe studente te help om lesingslokale en ander geboue op die kampus te vind en sodoende hul spanning te verlig. Hy sê die toepassing is egter meer as slegs ‘n navigasie-hulpmiddel omdat dit ook toewyding simboliseer om elkeen se se akademiese reis aan die universiteit te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….