Nuus 12:00
BULLETIN 10 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ontleders waarsku ‘n regering van nasionale eenheid sal nie noodwendig bestendigheid bring nie
# Die Klimaatkommissie twyfel of Suid-Afrika voorbereid is vir uiterste weerstoestande
# En, gholf: Scottie Scheffler maak weer geskiedenis
# Politieke ontleders waarsku hoewel die idee van ‘n regering van nasionale eenheid in beginsel goed is, bring dit nie noodwendig bestendigheid nie. Die ANC beraadslaag tans met ander politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, om sy voorstel oor so ‘n bedeling te bespreek en moontlik president Cyril Ramaphosa se herverkiesing te bewerkstellig. Die ontleder Ralph Mathekga sê dit beteken nie partye se verskille verdwyn as hulle instem tot ‘n regering van nasionale eenheid nie. Hy sê wat saak maak, is die kwessies waaroor hulle kan saamstem.
# Die Presidensiële Klimaatskommissie is baie bekommerd oor die land se voorbereidheid vir klimaatsverandering en uiterste weerstoestande. Dit volg nadat groot dele van die land die afgelope week swaar reën en oorstromings ondervind het, insluitend ‘n tornado in KwaZulu-Natal. Crispian Olver van die kommissie sê dringende werk is nodig om die land se veerkragtigheid te verbeter om dié soort weerverskynsels te hanteer.
Intussen sê Greenpeace Africa die toenemende en intensiteit van uiterste weerstoestande is ‘n regstreekse gevolg van die roekelose geskarrel van internasionale oliekorporasies vir fossielbrandstowwe in Afrika. Die omgewings-drukgroep sê die uiterste weersomstandighede in Suid-Afrika die afgelope ruk benadruk die klimaatnoodtoestand en die noodsaaklikheid dat groot olie- en gasontginningsmaatskappye soos Shell en Total oophou om in Suid-Afrika te ontgin.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het slegs die tweede speler ná Tiger Woods geword wat die Spelers-, Meesters- en Gedenkkampioenskap in dieselfde jaar kon wen. Die 27-jarige Amerikaner het op twee oor 74 klaargemaak om die PGA-toernooi se Gedenk-kampioenskap met een hou te wen vir sy vyfde titel die seisoen. Sy landgenoot Collin Morikawa was tweede en Adam Hadwin van Kanada derde. Scheffler sê Muirfield Village is altyd moeilik:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-441-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-296-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-83-sent per vat.
# En ten slotte, die Rolprent- en Publikasieraad is uiters besorg oor die stygende gevalle van kinderpornografie, veral in die Wes-Kaap. ‘n Woordvoerder, Ephraim Tljhako, sê sewe mense is van laat 2023 tot Januarie vanjaar aangekeer oor ‘n aanlyn netwerk van kinderpornografie. Hulle was in besit van duisende beelde en video’s van kinders. Tljhako waarsku mense wat kinders die meeste vertrou is dikwels die oortreders:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….