Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die rand is bestendig na die aankondiging van ‘n regering van nasionale eenheid
# ActionSA sê ‘n regering van nasionale eenheid sal opposisiepartye kragteloos laat
# En, rugby: Oli Kebble wil sy ou span, die Stormers, in die VRK-kwarteindstryd klop
# Die rand het van sy verliese herwin nadat dit gister tydelik tot 19-rand teenoor die dollar verswak het. Dit volg nadat president Cyril Ramaphosa planne vir ‘n regering van nasionale eenheid aangekondig, en die DA, die EFF, die IVP en kleiner partye uitgenooi het. Die ooreenkoms sal teikens vir ekonomiese groei, inklusiwiteit en dienslewering insluit. Die rand is gesteun deur ‘n swakker dollar wat naby ‘n laagtepunt van agt weke bly in afwagting op ‘n belangrike Amerikaanse verslag oor indiensnemingsyfers.
ActionSA het intussen die ANC se voorstel vir ‘n regering van nasionale eenheid verwerp en sê dit sal opposisiepartye kragteloos laat. ActionSA se voorsitter, Michael Beaumont, sê sy party se toekomstige rol is om ‘n opbouende opposisieparty te wees:
# Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika sê bedrywighede op die Kaapstadse Internasionale Lughawe is terug na normaal na gisteraand se bomdreigement. Die polisie se bomeenheid is ontplooi kort nadat die bemanning van ‘n FlySafair-vlug wat na OR Tambo Internasionale Lughawe sou vertrek, in kennis gestel is van ‘n moontlike veiligheidsgevaar op die vliegtuig. Passasiers en die bemanning is ontruim en die vliegtuig is deursoek. ‘n Woordvoerder van die maatskappy, Ntokozo Mazibuko, sê twee mense is in hegtenis geneem:
# Die regering bespoedig noodlenigingspogings in die Nelson Mandelabaai-metro nadat oorstromings huise vernietig, gesinne ontwortel en tot lewensverlies gelei het. Die minister van Menslike Nedersettings, Mmamoloko Kubayi, het ná ‘n toesigbesoek gevra dat ontwortelde gesinne dringend na tydelike noodverblyf verskuif moet word. Sy het oproepe herhaal vir openbare waaksaamheid tydens swaar reën. Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, het inwoners verseker die regering is besig om hulpbronne bymekaar te maak om die haglike situasie te verbeter. Hy het die privaat sektor ook versoek om vloedslagoffers by te staan.
# Rugby: Die oud-Stormer Oli Kebble hou duim vas vir ‘n oorwinning oor sy ou span in môre se Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd voor sy tyd by Glasgow Warriors eindig. Die stut het 101 wedstryde vir die Skotse span gespeel sedert hy in 2017 by hulle aangesluit het, asook elf toetse vir sy aangenome land. Die 31-jarige Kebble swyg nog oor wat hy vir volgende seisoen beplan, maar sê hy moet binnekort ‘n besluit neem. Hy hoop hy verlaat die Warriors met ‘n trofee.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 24-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-45-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-354-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….