Nuus 11:00
BULLETIN 3 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Een persoon sterf en vier is in ‘n bedenklike toestand ná ‘n trompop-botsing in Limpopo
# Regters Parker en Makhubele word meer tyd gegun in hul ampsaanklagproses
# En sokker: Engelse premierliga-span Chelsea teken ‘n rekord finansiële verlies aan
# Een persoon is dood en vier ander is in ‘n bedenklike toestand ná ‘n trompop-botsing tussen ‘n minibus-taxi en ‘n bakkie buite Polokwane in die rigting van Burgersfort in Limpopo. Nooddienste is steeds op die toneel terwyl die verkeer opbou. Die jongste ongeluk bring onlangse padsterftes in Limpopo op agt te staan. Owerhede het motoriste gewaarsku teen vertragings en bepleit versigtigheid, veral namate verkeersvolumes toeneem met reisigers en pelgrims wat die naweek op pad is na Moria.
Die Gautengse Verkeersdepartement doen intussen ‘n beroep op alle padgebruikers om in die Paastydperk veiligheidsregulasies na te kom en nie hul voertuie te oorlaai nie. Owerhede waarsku spoed, roekelose bestuur en oorlading verhoog die gevare van botsings. Wetstoepassingsbeamptes verskerp hul operasies op alle hoofroetes, en oortreders sal beboet word of hul voertuie sal geskut word. Die departement se woordvoerder, Sello Maremane, vra motoriste om veilig en verantwoordelik te bestuur:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie het Regters Mushtak Parker en Nana Makhubele ‘n bykomende maand gegun om redes teen hul ampsaanklag voor te lê. Die Regterlike Dienskommissie het albei skuldig bevind aan growwe wangedrag. Vertragings het egter gevolg weens kommunikasieprobleme en Makhubele se hospitalisasie. Parker kom te staan teen bewerings van oneerlikheid en finansiële onbehoorlikheid, en Makhubele word beskuldig van wangedrag verbind met PRASA. Die Parlement sal hul voorleggings oorweeg as deel van ‘n proses wat ‘n twee-derde-meerderheid vir verwydering vereis.
# Die Kabinet het ‘n navorsingsverslag oor die uitwerking van klimaatsverandering op persone met gestremdhede goedgekeur vir publikasie. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die navorsing is daarop gemik om inklusiewe klimaatoptrede te verseker. Die verslag beklemtoon gapings in rampbeskerming en bepleit toeganklike vroeë waarskuwings, inklusiewe kommunikasie en sterker deelname. Sy sê vroue, meisies en ouer persone met gestremdhede moet voorkeur ontvang:
# Sokker: Die Engelse klub, Chelsea het ‘n rekordverlies voor belasting in die Premierliga van 5,8-miljard-rand vir die boekjaar tot Junie verlede jaar aangeteken. Dit volg op ‘n wins van 2,8-miljard-rand die vorige jaar, wat versterk is deur die verkoop van sy vrouespan aan die filiaal Blueco Midco vir ongeveer 4,4-miljard-rand. Die klub skryf die verlies deels toe aan verhoogde bedryfskoste. Chelsea is verlede maand met 240-miljoen-rand beboet nadat hulle erken het dat hulle die liga se reëls oortree het met betalings tydens die ampstermyn van die voormalige eienaar Roman Abramovich, wat nie bekend gemaak is nie.
# En ten slotte: Die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid en Welstand moedig gemeenskappe aan om te fokus op die sterkpunte van kinders met outisme. Ter viering van Wêreld-outismebewustheidsdag sê die departement outistiese kinders kan met vroeë ondersteuning, terapie en inklusiewe sorg, floreer op skool, en met stokperdjies en toekomstige loopbane. Sashmi Moodley van die Rooikruis-kinderhospitaal sê baie kinders met outisme het sterk vermoëns soos kreatiwiteit, aandag aan detail en probleemoplossingsvaardighede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….