Nuus 09:00
BULLETIN 3 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie voer ‘n klopjag uit op die georganiseerde misdaadbeampte Fannie Nkosi se huis in Pretoria
# Die kabinet keur die konsepwetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers goed vir openbare kommentaar
# En krieket: Die eendagreeks tussen die Proteas en Nieu-Seeland-vroue word more in Wellington beslis
# Die polisie het die georganiseerde misdaadbeampte sersant Fannie Nkosi se huis in Pretoria-Noord deursoek as deel van ‘n voortgesette ondersoek na beweerde bande tussen wetstoepassing en misdaadnetwerke. Owerhede het nie volledige besonderhede bekendgemaak nie, maar het bevestig die operasie is deel van wyer ondersoeke na die sogenaamde “Groot 5”-kartel. Nkosi word verdink dat hy as ‘n skakel tussen senior polisiebeamptes en die kartel optree, en hy staar nou ‘n strafregtelike ondersoek in die gesig. Hy is voorheen deeglik deur die Madlanga-kommissie ondervra wat korrupsie in die strafregstelsel ondersoek.
# Die Kabinet het die konsepwetsontwerp op die Beskerming van Bekendmakings vir openbare kommentaar goedgekeur. Dit is daarop gemik om die beskerming van fluitjieblasers te versterk. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die voorgestelde wet kriminaliseer vergelding en bied wetlike, finansiële en psigomaatskaplike ondersteuning. Dit stel ook finansiële aansporings vir die blootlegging van korrupsie bekend. Die minister sê die wetsontwerp poog om gapings in huidige wetgewing te vul, na aanleiding van kommer oor die veiligheid van fluitjieblasers in Suid-Afrika:
# Die DA sê hulle wag steeds vir die presidensiële Wateraksieplan wat in vanjaar se Staatsrede belowe is. Die party het onthul die Waterkrisiskomitee wat ingestel is om die plan te ontwikkel, teen middel Maart nog nie vergader het nie, ten spyte van verwagtinge dat ‘n plan kort daarna gefinaliseer sou word. Stephen Moore van die DA vra dat die volledige waterkrisisplan vir openbare ondersoek vrygestel word, aangesien miljoene Suid-Afrikaners steeds met waterprobleme te kampe het.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het verbruikers gewaarsku oor herroepings van sekere Land Rover Defender- en I-PACE-voertuie weens veiligheidskwessies. Ongeveer 60 Defender-voertuie het moontlik foutiewe veiligheidsgordelhakies wat tydens ‘n ongeluk moontlik nie sal werk nie. Die waarnemende kommissaris, Hardin Ratshisusu sê ‘n verdere 67 I-PACE-voertuie het ook moontlik battery probleme wat tot oorverhitting of brandgevare kan lei. Hy versoek verbruikers om gemagtigde handelaars te besoek:
# Die medestigter van Africa GreenCo, Cathy Oxby, sê die uitbreiding van streekshandel in elektrisiteit is van kritieke belang om Suid-Afrika se energiemark te versterk. In ‘n meningsartikel in Engineering News waarsku Oxby, hoewel Eskom ‘n jaar sonder beurtkrag nader, bly die stelsel kwesbaar sonder dieper integrasie. Oxby sê oorgrens-kraghandel deur die Southern African Power Pool kan bestendigheid verbeter, koste verminder en hernubare energie ondersteun. Sy sê hoewel hervormings en privaat opwekking die aanbod verhoog het, is verdere streeksamewerking nodig om energiesekuriteit in die langtermyn verseker.
En, krieket: Die eendagreeks tussen die Proteas-vrouespan en Nieu-Seeland sal môre in die derde en laaste wedstryd in Wellington beslis word. Suid-Afrika het die eerste wedstryd in Christchurch met twee paaltjies van die laaste bal gewen, terwyl die Silwervarings ‘n reuse-teiken van 347 in die tweede in Wellington ingehaal het om ‘n wêreldrekord vir ‘n suksesvolle lopie-jaagtog in vroue-eendag-wedstryde te behaal. Na dié reeks sal die Proteas, die gasvroue vir Indië in vyf T20’s in Durban, Johannesburg en Benoni wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….