Nuus 11:00
BULLETIN 14 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê die ANC moet alliansievennote kry wat toegewyd is aan die saak
# Die VN se Palestynse agentskap beskuldig Israel dat hy hulplewering aan Gaza belemmer
# En rugby: Nege Springbokke gaan die toets teen Wallis en die eerste een teen Ierland misloop
# Die spoed waarteen die voorgestelde regering van nasionale eenheid tussen die ANC, die DA en die IVP voorgestel is, sal ware toewyding vereis van die ANC se alliansievennote. Anders sal dit net ‘n weerspieëling wees van ʼn elite-ooreenkoms wat in die toekoms onbestendig kan wees. Dit is die mening van die politieke ontleder Daniel Silke. Die ANC het met sowat 17 politieke partye onderhandel om ʼn nuwe regering te vorm. Silke sê sonder ʼn duidelike beleidsagenda is die regering van nasionale eenheid net ʼn meganisme om aanvanklik vir bestendigheid te sorg:
# ActionSA het Eskom se versoek aan die Appèlhof veroordeel, wat daarop gemik is om deurlopende kragonderbrekings te handhaaf wat die kwesbares raak. Die Noord-Gautengse Hooggeregshof het in ‘n vorige hofuitspraak hospitale, skole en polisiestasies van beurtkrag vrygestel. Die kommunikasiedirekteur, Samkelo Mgobozi, beweer Eskom se versoek is ‘n taktiek om kiesers te mislei en verantwoordelikheid te ontduik. Hy sê ActionSA sal die aansoek teenstaan en die beskerming van noodsaaklike instellings verseker:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en sy waarnemende uitvoerende hoof, Masile Ramorwesi, se paaie het geskei na ‘n onderlinge ooreenkoms. Ramorwesi is intern aangekla na ‘n ondersoek deur die Werksmans-prokureursfirma, wat bevind het die aanstelling van vier maatskappye om betalingsdienste aan studente te verskaf, het op ‘n belangebotsing neergekom. Die skema se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê ingevolge die ooreenkoms sal Mnisi steeds tot die 31ste van volgende maand beskikbaar wees.
# Die Verenigde Nasies se hulpagentskap vir Palestyne beskuldig Israel dat hy dikwels hulp aan Gaza belemmer en sy bedrywighede in die gebied kniehalter. Die drywende kaai wat Amerika gebou het, is die enigste toegangspunt vir die meeste hulpmiddele buiten brandstof nadat Israelse magte vroeg verlede maand beheer oor die Rafah-grenspos geneem het. Die Amerikaanse Weermag het hierdie week by die kaai toesig gehou oor die lewering van een-duisend-573 ton hulpmiddele. Die agentskap, wat die grootste hulporganisasie in Gaza is, sê meer as twee-miljoen mense het dringend hulp nodig.
# Rugby: Die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, het bevestig nege spelers sal die eenmalige toets teen Wallis en die eerste van twee toetse teen Ierland misloop weens beserings. Hulle sluit in die gereelde toetsspelers Steven Kitshoff, Lood de Jager, Canan Moodie, Damian Willemse en Kurt-Lee Arendse. Erasmus sê dit is nog onseker of Cheslin Kolbe betyds fiks sal wees vir die toets teen Wallis:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 23-rand-51-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-954-dollar-23-sent. Die prys van goud is twee-duisend-310-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….