Nuus 10:00
BULLETIN 2 Junie 10 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die UDM sê dis onaanvaarbaar dat die Verkiesingskommissie werkloses die skuld gee
# Twee Israelse ministers dreig om te bedank oor die Gaza skietstilstandvoorstel
# En motorsport: Brad Binder spring in die 13de posisie weg by die Italiaanse MotoGP
# Die UDM vra die Verkiesingskommissie om die swak hantering van stem-hertelprosesse in Nelson Mandelabaai in die Oos-Kaap aan te spreek. Die party striem die OVK oor sy versuim om foute in stembriewe reg te stel en omdat beloftes van ‘n hertelling nie nagekom word nie. Die UDM voer aan dit ondermyn verkiesingsdeursigtigheid en -integriteit. Die sekretaris-generaal, Yongama Zigebe, vra onmiddellike optrede om regverdigheid te verseker:
# Die MK-party sê dis vreemd maar problematies dat mense dink die party is volgens stamverband georganiseer. Jacob Zuma se party het sterk vertoon in die verkiesing, veral in KwaZulu-Natal waar hy 45,35-persent van die stemme gekry het teenoor die IVP se 18,07-persent in die tweede plek. MK se adjunk-sekretaris-generaal, Arthur Zwane, sê hierdie perspektief toon ‘n gebrek aan eerbied en is beledigend en ondermyn nie net die Zoeloe-nasie se politiek nie, maar verwater hul geldige politieke keuses as stamverwant:
# Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê daar is ‘n groter kans vir mense om werk in die stad te kry en dit is hoekom hulle vasbeslote is om meer te doen om die ekonomie te laat groei. Die stad het die laagste werkloosheidsyfer en het sedert die begin van die die munisipale termyn meer as 300-duisend werkgeleenthede geskep. Kaapstad se maatskaplike pakket vir 2024/2025 vergelyk goed met ander stede wat betref die belangrikste armoede-kriteria, insluitend die grootste kortings en lewensreddende elektrisiteitstoegewings vir pensioenarisse. Hill-Lewis sê die stad het ‘n ongeëwenaarde rekord.
# Twee Israeliese ministers het gedreig om te bedank en die regerende koalisie in duie te laat stort as die eerste minister, Benjamin Netanyahu, instem tot die Gaza skietstilstandooreenkoms. Die driedelige voorstel begin met ‘n skietstilstand van ses weke waartydens die Israeliese weermag uit Gaza onttrek. Die ooreenkoms sal uiteindelik lei tot die vrylating van alle gyselaars, ‘n permanente skietstaking en ‘n omvattende heropbouplan vir Gaza. Die minister van Finansies, Bezalel Smotrich en die minister van Nasionale Veiligheid, Itamar Ben-Gvir sê hulle is gekant teen enige ooreenkoms voor Hamas nie vernietig is nie.
# En, Motorsport: Die Suid-Afrikaner Brad Binder begin vandag op sy KTM in die 13de plek by die Italiaanse MotoGP. Jorge Martin van Ducatti-Pramac het die voorste wegspringplek by die Mugello-baan. Martin is die voorloper in die wêreldkampioenskap en was net-net voor die heersende wêreldkampioen. Francesco Bagnaia, van Ducatti. Die Spanjaard Maverick Vinales van Aprilia was derde en sy landgenoot, Marc Marquez, nou by Ducatti-Gresini, vierde. Bagnaia het drie plekke teruggeval nadat hy gepenaliseer is omdat hy Alex Marquez van Ducati-Gresini in die oefenrondtes belemmer het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….