Nuus 11:00
BULLETIN 2 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is volgens berigte reeds krake in die ANC oor koalisievennote
# Die Britse eerste minister ondersteun die voorgestelde skietstilstand-ooreenkoms in Gaza
# En krieket: Die VSA begin met ’n oorwinning in die T20 Wêreldbeker
# Beraadslagings is glo reeds aan die gang tussen senior lede in die ANC, die EFF en die MK-party om ‘n koalisie te vorm, maar president Cyril Ramaphosa is nie deel daarvan nie. Dit is na wat City Press vandag berig. Die ANC het sy drie dekade-lange volstrekte meerderheid in ‘n maak-of-breek-verkiesing verloor met Suid-Afrika wat ‘n era van koalisie-regering binnegaan. Die koerant berig voorts informele gesprekke het ook tussen die DA, die IVP en mense na aan Ramaphosa se kamp in die ANC begin.
# Die ACDP se Nasionale Uitvoerende Komitee het ‘n onafhanklike verkiesingsontleder aangestel om die party se besware oor die uitslag aan die Verkiesingskommissie te hanteer. Die party sê hy is oorval met navrae, klagtes en bewerings oor stem- en telprosesse. Raymond Tlaeli van die ACDP sê die onafhanklike ondersoeker se werk kan maande duur en party-agente en kiesers kan gevra word om meer inligting, bewyse of beëdigde verklarings oor hul ervarings in te dien:
# Cosatu het president Cyril Ramaphosa se bekragtiging van die Wysigingswetsontwerp op Inkomstewette verwelkom en sê dit sal die tweepot-aftreestelsel moontlik maak. Die wysigingswet hanteer kommer oor gebrek aan beskerming voor aftrede en gebrek aan toegang tot aftreefondse wanneer huishoudings finansiële probleme het. Cosatu’s, Matthew Parks, sê die tweepotstelsel bied ʼn progressiewe kompromis en regverdige balans waar werkers toegang het tot ʼn deel van hulle pensioengeld terwyl hulle nog werk:
# Die Britse eerste minister Rishi Sunak sê die jongste voorgestelde skietstilstand tussen Israel en Hamas is baie welkom. Die voorstel bestaan uit drie fases: ʼn volle skietstilstand van ses weke, die vrylating van gyselaars, en die toelating van humanitêre hulp in Gaza. Dit sluit ook ʼn herbou-program vir Gaza in. Sunak sê almal wil volhoubare en blywende vrede in die Midde-Ooste hê:
# En laastens krieketnuus: Amerika wat mede-gasheer van die T20-wêreldbeker is, het met ʼn oorwinning afgeskop en hulle buurland, Kanada, met sewe paaltjies verslaan in die openingswedstryd in Texas. Navneet Dhaliwal het 61 lopies bygedra tot Kanada se telling van 194 vir vyf in hulle heel eerste T20-wêreldbeker. Aaron Jones het in antwoord daarop ʼn onoorwonne 94 van 40 balle gemoker en Amerika het die teiken gehaal met 14 balle oor. Amerika se mede-aanbieders is die Wes-Indiese Eilande, wat vandag in Guyana teen Papoea-Nieu-Guinee kragte meet.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….