Nuus 09:00
BULLETIN 3 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi se leier in Gauteng en die Oos-Kaap vir kieserregistrasie-naweek
# Die DA eis die instelling van streng veiligheidsmaatreëls vir leerdervervoer
# En, rugby: Ierland behaal ‘n bonuspunt-oorwinning in Sesnasie-reeks teen Frankryk se 14-man-span in Marseille
# RISE Mzansi se leier, Songezo Zibi, gaan dié finale kiesersregistrasienaweek ‘n beroep doen op ongeregistreerde kiesers in Gauteng en die Oos-Kaap om hulle naaste kiesersregistrasiesentrums te besoek. Hy sê diegene wat sedert die vorige verkiesing verhuis het, moet hulle besonderhede by die Verkiesingskommissie opdateer. Die woordvoerder van RISE Mzansi, Mabine Seabe, sê die naweek is die laaste registrasienaweek voor die nasionale en provinsiale verkiesings later vanjaar:
# Die DA in Gauteng eis dat die LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, dringend streng en versterkte veiligheidsmaatreëls vir leerdervervoer in die provinsie instel. ‘n Graad-ses-leerder van die Laerskool Modiselle in Ga-Rankuwa, Tshwane, is onlangs in ‘n tragiese vervoervoorval dood. Sergio dos Santos van die DA doen ‘n beroep op die gemeenskap, ouers en belanghebbendes om saam te werk en te pleit vir verbeterde leerdervervoer-standaarde om die veiligheid van alle kinders te verseker:
# Die regering hersien voorgestelde nuwe diensbillikheidsteikens, wat spesifieke kwotas vir Afrika-, bruin-, Indiër- en wit werkers uitskakel. ‘n Enkele teiken is nou van toepassing op aangewese groepe, insluitend swart mense – Afrikane, bruin mense en Indiërs; vroue, en mense met gestremdhede wat Suid-Afrikaanse burgers is. Die teikens verwyder die onderskeid tussen provinsiale en nasionale doelwitte. Vervaardigingsondernemings moet verseker ten minste 40-persent van hul topbestuur is van die aangewese groepe, met 15-persent wat vroue is. Die regering beklemtoon hierdie is nie kwotas nie en verbied enige beëindiging weens regstellende optrede.
# Brussels het gister die Israeliese ambassadeur, Idit Rosenzwig-Abu, ontbied nadat ‘n gebou van ‘n Belgiese ontwikkelingsagentskap in die stad Gaza gebombardeer is. Die minister van Buitelandse Sake, Hadja Lahbib, sê aanvalle op burgerlike infrastruktuur verbreek die beginsels van internasionale humanitêre reg. Die Begiese ministerie van Ontwikkelingsamewerking het gesê hy is nie bewus van enige burgerlike ongevalle nie. Rosenzweig-Abu het ‘n ondersoek beloof. België is een van die lande wat ‘n beroep gedoen het vir ‘n blywende humanitêre skietstaking in Gaza en het Israel gekritiseer vir sy hantering van die konflik.
# En, om mee af te sluit, rugby: Die verdedigende kampioen, Ierland, het in hulle eerste wedstryd van die Sesnasie-reeks hulle grootste weg-oorwinning ooit teen ‘n 14-man-span van Frankryk in Marseille behaal. Drieë deur Jamison Gibson-Park en Tadhg Beirne, saam met die afstuur van Paul Willemse van die Franse, het Ierland na 30 minute in ‘n sterk posisie geplaas. Damian Penaud se drie net voor rustyd het nuwe lewe in die Franse span geblaas. Maar ondanks kaptein Peter O’Mahony se geelkaart het Ierland die gashere oorweldig om ‘n rekordoorwinning van 38-17 te behaal. Italië kom vandag teen Engeland te staan, met Wallis wat Skotland pak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….