Nuus 08:00
BULLETIN 19 Augustus 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum en March and March vorm ‘n werkgroep
# Die Ampsklagkomitee beraadslaag verder oor sy opdrag
# En Meta verwerp bewerings dat hy doelbewus probeer het om kinders te verslaaf
# Die voorspraakgroepe AfriForum en March and March het ooreengekom om regsake van gemeenskaplike belang gesamentlik aan te pak en mekaar te ondersteun oor kwessies rondom die oppergesag van die reg, die stryd teen misdaad en onwettige migrasie. Die leierskap van die twee groepe het gister vergader. AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, sê hulle het ooreengekom om ‘n werkgroep te vorm en saam te werk aan uitdagings soos regeringsmislukkings soos grensbeheer, misdaadvoorkoming en openbare onderwys:
# Die parlementêre Ampsklagkomitee gaan vandag verder beraadslaag oor die konsep-opdrag wat sy werk sal bepaal. Die komitee se voorsitter, Makashule Gana, sê die Parlement se Regsdienste-kantoor het die opdrag vereenvoudig en seker gemaak die taalgebruik in die dokument is eenvormig. Hy sê hulle sal enige insette van lede oorweeg voor die dokument afgehandel word. Gana sê daar is ook ‘n bywerking oor die aanstelling van ʼn getuienisleier op die agenda:
# Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het vyf nuwe onafhanklike deskundiges aangestel om sy bestuur te versterk. Die nuwe lede bied ervaring in finansies, risikobestuur, tegnologie en openbare sektorleierskap. Poppy Tshabalala en Patrick Ganesan het by die Inligtingstegnologie-bestuurskomitee aangesluit, terwyl Suren Maharaj, Fulufhelo Tshikhudo en Ayanda Vabaza-Mvandaba in die Oudit- en Risikokomitee aangestel is. Die aanstellings sal aanspreeklikheid, strategiese toesig en innovering ter ondersteuning van openbare gesondheidsorg versterk.
# Die sosialemedia-reus, Meta, sê hy het meer as ʼn miljoen rekeninge van kinders jonger as 13 onaktief gemaak. Nege-en-twintig Amerikaanse state dagvaar Meta, en beweer hy versamel gereeld sonder toestemming van ouers, en in oortreding van federale en staatswette, inligting van kinders jonger as 13. Die verhoor het gister in ʼn federale hof in Kalifornië begin. Meta se prokureur, Paul Schmidt, sê sommige sosialemedia-gebruikers beleef probleme, maar navorsing toon geen duidelike verband tussen tieners se gebruik van sosiale media en ʼn gebrek aan welstand nie.
# Sokker: Die uitvoerende hoof van die Engelse Premierliga, Richard Masters, het aangesluit by oproepe dat FIFA-president Gianni Infantino moet bedank. Infantino is ernstig gekritiseer oor sy omstrede plan om aandele in kompetisies aan private beleggers te verkoop. Die voorstel is intussen verwerp maar verskeie federasies het hul steun vir Infantino onttrek, wat na verwagting in Maart vir ‘n vierde termyn as president sou staan. Masters het aan Sky News gesê FIFA het ‘n kandidaat nodig wat die liggaam kan verenig en positiewe verandering te weeg bring:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-24-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-314-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-356-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 93-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….