Nuus 08:00
BULLETIN 3 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK mik na 100-duisend gevangenes met registrasienaweek
# Alle brandlyne is onder beheer in Kaapse Wynland-distrik
# En, Suid-Afrika se eerste wêreldkampioen in gemengde gevegskuns Dricus du Plessis op toer met sy gordel
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie beplan om hierdie naweek 100-duisend gevangenes in sommige van die land se 243 korrektiewe sentrums te registreer. Die kommissie wil kiesersdeelname verhoog teenoor 2019 s’n. Sedert gevangenes in 1999 die ou Verkiesingskommissie uitgedaag het, het hulle onbeperkte kiesersregte. ‘n Lid van die OVK, Mosotho Moepya, het tydens ‘n besoek aan sentrums gesê gevangenes sal ook die geleentheid hê om die aanlyn registrasieportaal te gebruik:
# Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se Branddienste en helpers het beduidende vordering gemaak en alle brandlyne is nou onder beheer. Spanne bly bedag vir moontlike opvlammings in die warm weer, en gaan voort om op te ruim. ‘n Woordvoerder, Anesca Roodt, skryf die welslae toe aan samewerking wat die deurslag gegee het om die brande die afgelope tien dae te bestuur:
# Die Iranse president Ebrahim Raisi sê sy land sal nie ‘n oorlog begin nie maar sal sterk optree teen enigiemand wat hom probeer intimideer. Raisi se kommentaar volg ‘n paar dae van bespiegeling oor hoe Washington gaan terugslaan na drie Amerikaanse soldate verlede Saterdag in ‘n aanval op hulle basis in Jordanië deur ‘n Iran-gesteunde groep gedood is. CBS News haal Amerikaanse amptenare aan wat vroeër gesê het die VSA het planne goedgekeur vir aanvalle oor verskeie dae in Irak en Sirië op verskeie teikens, insluitend Iranse personeel en geriewe in die lande.
# Krieket: Die Sunrisers Eastern Cape beklee nou die tweede plek op die SA20-punteleer na hulle oorwinning van 44 lopies teen die Paarl Royals gisteraand op Bolandpark. Die Royals, wat 209 gejaag het, het hulle derde agtereenvolgende nederlaag gely en op 164 vir sewe geëindig. ‘n Indrukwekkende onoorwonne 71 van 31 balle deur Marco Jansen het die Sunrisers gehelp om ‘n bonuspunt-oorwinning te behaal. M-I Cape Town pak die Pretoria Capitals vandag in Kaapstad en die Joburg Super Kings kom teen Durban se Super Giants op die Wanderers te staan.
# En ten slotte, gemengde gevegskuns: Suid-Afrika se eerste UFC-kampioen, Dricus du Plessis, gaan sy kosbare gordel vandag aan ondersteuners in Pretoria vertoon nadat hy gister ʼn besoek aan Kaapstad gebring het. Hy het die Stormers-rugbyspan besoek en ondersteuners het na die V&A Waterkant gestroom om die kampioen te ontmoet. Du Plessis gaan vandag vanaf half-vier tot half-ses ʼn besoek bring aan die Menlyn Maine-winkelsentrum.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………