Nuus 11:00
BULLETIN 21 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Business Leadership SA sê groei van drie-persent is nodig vir grootskaalse werkskepping
# Vyf buitelanders is vas na die ontdekking van ‘n dwelmlaboratorium van 600-miljoen-rand in Limpopo
# En rugby: Die All Blacks se afrigter is gereed vir ‘n fisieke kragmeting met die Bokke
# Business Leadership South Africa sê vir grootskaalse werkskepping moet die land beter doen en die groeikoers tot bo drie-persent opskuif. Daar is tans 8,5-miljoen werklose mense en jaarliks kom sowat 300-duisend nuwe werksoekers by. BLSA se voorsitter, Adrian Gore, sê die sakesektor glo Suid-Afrika het aansienlike geleentheid om ‘n self-versterkende siklus te skep met verbeterde belegging, groei, werk en groter vertroue. Hy voeg by die land het baie onvervulde moontlikhede.
# Eskom sê sy verskaffer-tugproses het daartoe gelei dat 101 verskaffers tot tien jaar lank verbied word om sake te doen met die kragvoorsiener. Dit hou verband met sake van 2015 tot 31 Maart vanjaar. Woordvoerder Daphne Mokwena sê bedrog, korrupsie, onregmatige verkryging en verskaffers se wangedrag ondermyn openbare vertroue. Sy sê dit beklemtoon die behoefte aan beslissende, deursigtige en volhoubare gevolgbestuur in die voorsieningsketting:
# Die Valke het ʼn reuse-dwelmvervaardiging-aanleg van ʼn geraamde 600-miljoen-rand op ʼn plaas in Musina, Limpopo, ontdek en vyf buitelanders in hegtenis geneem. Dit is die derde geheime dwelmlaboratorium wat in die provinsie gesluit word. Woordvoerder Avele Fumba sê die deurbraak volg na twee maande se intensiewe ondersoek na vermeende dwelmvervaardiging op die plaas. Hy sê hulle het beslag gelê op dwelms, laboratoriumtoerusting en kontant:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Ministerie van Buitelandse Sake sê die Amerikaanse president, Donald Trump, se onwettige dreigement van verhoogde sanksies is die keerkant van die munt van oorlog en militêre aggressie. Trump dreig met ‘n ekonomiese D-Dag met gevolge vir enige land wat met Iran sake doen. Pogings sloer om die oorlog te beëindig en Amerika sukkel om die Seestraat van Hormoes te heropen. Iran sê ekonomiese terrorisme bedreig die globale ekonomie en die nasionale soewereiniteit van alle lande.
# Rugby: Die All Blacks se afrigter, Dave Rennie, sê hulle maak gereed vir ʼn fisieke armdruk-stryd eerder as oop hardlooprugby in môre se toets teen die Springbokke op Ellispark. Hy het ʼn sterk span aangewys, met Ardie Savea as kaptein en die skrumskakel Cam Roigard en die vleuel Will Jordan wat die eerste keer op die toer speel. Rennie sê lugskoppe gaan van vroeg in die wedstryd ‘n sleutelrol speel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-903-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-558-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….