Nuus 09:00
BULLETIN 15 Desember 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die gewapende mans in die Bondi-strand-slagting was ’n pa en seun
# Die VF Plus is bekommerd oor die groeiende invloed van radikale elemente
# En Nersa bevestig tydlyne vir die indiening en goedkeuring van elektrisiteitstariefaansoeke
# Die polisie het bevestig die twee Bondi-strand-aanvallers was ‘n 50-jarige pa en sy 24-jarige seun. Minstens 15 mense is doodgeskiet toe twee verdagtes gister losgebrand het op ʼn groep Joodse Australiërs wat die eerste dag van Hanukkah gevier het. Die polisie het die pa doodgeskiet en die seun is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal. Nieu-Suid-Wallis se polisiekommissaris, Mal Lanyon, sê hulle soek nie na ʼn derde aanvaller nie:
# Die Vryheidsfront Plus het die terreuraanval op Bondi-strand in Sydney, Australië, veroordeel, waarin minstens 15 mense dood is, insluitend ‘n tienjarige meisie. Twee gewapende mans het lukraak op mense losgebrand op ‘n geleentheid waar die begin van Hanukkah, ‘n Joodse feestyd, gevier is. Die leier van die VF Plus, Corne Mulder, sê die aanval is nie net ‘n aanval op die Joodse gemeenskap nie, maar ook op ‘n globale waardestelsel gegrond op vryheid, demokrasie en menseregte. Hy sê die toenemende invloed van radikale elemente wêreldwyd is ‘n groot bron van kommer.
# Die nasionale energiereguleerder, Nersa, het die proses en sperdatums vir die voorlegging en goedgeuring van aansoeke vir die 2026/2027-boekjaar se elektrisiteitstariewe bevestig. Dit volg na ʼn slypskool met gelisensieerde verspreiders en munisipaliteite in ooreenstemming met die Noord-Gautengse Hooggeregshof se uitspraak, wat hersiene en bindende sperdatums vir tariewe bekendgestel het. Nersa-woordvoerder Poppie Mahlangu sê alle gelisensieerde verspreiders moet hulle aansoeke teen 20 Maart 2026 indien:
# Sokker: Manchester City het Crystal Palace met 3-0 verslaan en is slegs twee punte agter Arsenal, die Premierliga-voorlopers. Arsenal se oorwinning Saterdag teen Wolves het die gaping tot vyf punte vergroot. Erling Haaland het twee doele aangeteken en Phil Foden spog met ses doele in vyf wedstryde. Pep Guardiola se span het tot dusver vier agtereenvolgende Premierliga-seges behaal. In die ander wedstryde het Aston Villa met 3-2 koning gekraai oor West Ham, Newcastle United verloor met 1-0 teen Sunderland, en Nottingham Forest verpletter Tottenham Hotspur met 3-0.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-86 sent teen die dollar, 19-rand-79-sent teen die euro en 22-rand-52 sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-en-508 dollar. Die prys van goud is vier-duisend-329 dollar, 6-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 61-dollar-22-sent per-vat.
# En ter afsluiting: Thandiswa Mazwai en Goldmax het op die 31ste Suid-Afrikaanse Musiektoekennings gisteraand by die Gallagher-landgoed in Midrand, Johannesburg, onderskeidelik die toekennings vir beste vroulike en manlike kunstenaar van die jaar gewen Mazwai het ook die toekennings ontvang vir beste Afrika-kontemporêre volwasse musiek, beste vervaardigde en beste gemanipuleerde album vir Sankofa gewen. Goldmax het boonop weggestap met die album van die jaar en beste Gqom-album vir Play At Your Own Risk. Kelvin Momo se album, Ntsako, het die beste Amapiano-album gewen, terwyl Gucci, Mthandeni SK met MaWhoo die toekenning van album van die jaar ontvang het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….