Nuus 09:00
BULLETIN 27 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Saftu sê die gebrek aan leningsbesonderhede verhoog die risiko van ‘n toekomstige las op Johannesburg se inwoners
# AfriForum verseker die skuldigbevinding aan aanranding teen Alexi Bizos
# En, Olimpiese Spele: President Ramaphosa wens Span SA alles van die beste toe
# Die vakverbond Saftu veroordeel Johannesburg se stadsraad vir die verkryging van ‘n lening van 2,5-miljard-rand van die Franse Ontwikkelingsagentskap sonder om kritieke besonderhede bekend te maak. Saftu waarsku die gebrek aan deursigtigheid kan ‘n aansienlike finansiële las op inwoners plaas deur hoër munisipale diensfooie en moontlike besuinigingsmaatreëls. Woordvoerder Trevor Shaku vra volle bekendmaking van die voorwaardes van die lening en vra die raad om die besluit te heroorweeg:
Intussen betoog die Joburg Crisis Alliance vandag by die Metrosentrum om die verwydering te eis van die burgemeester van die Stad Johannesburg, Kabelo Gwamanda. Die alliansie, wat OUTA, die Ahmed Kathrada-stigting, die Rivonia Circle, Action for Accountability en Defend our Democracy insluit, wys op heffingverhogings, korrupsie en wanadministrasie as sleutelkwessies. Hulle moedig inwoners aan om die beroep vir Gwamanda se bedanking te steun en kritiseer die verslegtende gehalte van die stad se dienste onder sy leierskap.
# Die privaat vervolgingseenheid van AfriForum het ‘n skuldigbevinding verkry teen Alexi Bizos, die seun van die ontslape menseregteprokureur George Bizos, op aanranding met die doel om ernstig te beseer. Bizos is skuldig bevind nadat hy nege jaar gelede sy voormalige vrou Monique van Oosterhout met die vuis bygedam het. Barry Bateman van AfriForum sê die Landdroshof in Johannesburg het Bizos skuldig bevind en vonnisoplegging is op 23 Augustus:
# Olimpiese Spele: President Cyrl Ramaphosa het Span Suid-Afrika alles van die beste in Parys toegewens en verseker die atlete van die land se geesdriftige ondersteuning. Ramaphosa sê die span wat Suid-Afrika se vlag omhoog hou, laat Suid-Afrikaners se harte swel van trots en hulle sien met groot verwagting uit na sukses. Hy sê hulle deelname laat mense terugdink oor hoe 30 jaar se vryheid deure vir burgers van alle agtergronde en vlakke van die samelewing geopen het om hulle potensiaal en talente uit te leef.
Verskeie Suid-Afrikaners is vandag in aksie op die eerste volle dag van die spele in Parys na gisteraand se skouspelagtige openingseremonie. Die absolute hoogtepunt sal die Springbok Sewes-rugbyspan wees wat in die eerste halfeindstryd teen die gasheer, Frankryk, speel. Swemmer Erin Gallagher sal in die uitdunne van die 100-meter vlinderslag deelneem en die manshokkiespan speel teen Nederland. Branderplankryers Jordy Smith, Matthew McGillivray en Sarah Ann Baum gaan die waters trotseer en Geronay Whitebooi neem deel in judo.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….