Nuus 09:00
BULLETIN 7 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Meer as 40-persent van die verkose verteenwoordigers is vroue
# Rise Mzansi maak sy verteenwoordigers vir die nasionale en provinsiale wetgewers bekend
# En president Ramaphosa wens die premier van Indië geluk met sy herverkiesing
# Die Verkiesingskommissie sê ná die nasionale en provinsiale verkiesing is 43,5-persent van die verkose verteenwoordigers vroue. Dit is ‘n belangrike stap in die rigting van geslagsgelykheid in politieke verteenwoordiging met die vorming van die sewende demokratiese Parlement. Die finale lys van verkose verteenwoordigers is aan Hoofregter Raymond Zondo oorhandig. Die OVK-voorsitter, Mosotho Moepya, sê die lys se uiteenlopendheid, met 174 vroue en 226 mans, weerspieël ‘n wye reeks ervaring en perspektiewe in die politiek:
# RISE Mzansi het die name van verteenwoordigers vir die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers aan hoofregter Raymond Zondo oorhandig. Die nasionale woordvoerder Gugu Ndima sê twee leiers sal in die Nasionale Vergadering dien en een in die Gautengse wetgewer. Ndima sê die party wil erns, optimisme en oplossings in die wetgewers bewerkstellig. Sy bevestig die party sal die sogenaamde Citizens’ Assemblies aanbied:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het die Konstitusionele Hof se beslissing verwelkom wat ‘n appèlaansoek in die Hooggeregshof van die ingenieursmaatskappy Amphophile Consulting verwerp het. Die Polokwane Hooggeregshof het in 2022 die maatskappy se aansoek verwerp om ‘n SOE-ondersoekverslag oor die her-elektrifisering van dorpe in Limpopo te hersien en van die hand te wys. ‘n Woordvoerder van die SOE, Kaizer Kganyago, sê die uitspraak baan die weg om ‘n siviele eis teen die ingenieursmaatskappy in te stel vir die verhaling van 76-miljoen-rand:
# President Cyril Ramaphosa het die Indiese eerste minister, Narendra Modi, gelukgewens met sy herverkiesing en hom geloof vir sy toewyding en verbintenis tot die mense van Indië. Modi moes onverwags op die steun van kleiner partye staatmaak om ‘n parlementêre meerderheid te behaal na sy Bharatiya Janata-party nie die 272 setels kon behaal wat nodig is om die nuwe regering te vorm nie. Ramaphosa het herbevestig Suid-Afrika sien daarna uit om steeds met Indië oor aangeleenthede saam te werk wat vir albei lande belangrik is.
# Sokker: Engelse Premierligaklubs het gestem ten gunste van die behoud van die Video-hulpskeidsregter of VAR-stelsel volgende seisoen. Die BBC berig 19 van die afdeling se 20 klubs het gestem om die omstrede tegnologie te behou. Die BBC sê net Wolves, wat verlede maand die stemmery oor die skrap van die stelsel aangevra het, het daarteen gestem. Die klub in die Middeland het die VRA beskuldig van die ondermyning van die Premierliga-handelsmerk na nog ‘n seisoen vol debatteerbare beslissings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-60-sent teen die euro en 24-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-115-dollar-16-sent. Die prys van goud is twee-duisend-386-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 80-dollar-3-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….