Nuus 09:00
BULLETIN 5 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie gaan die lyste van verkose lede van die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewer aan die Hoofregter oorhandig
# ActionSA in KZN bied verligting aan gemeenskappe wat deur die gure weer geraak is
# En, Wêreldomgewingsdag, ‘n oproep om die beskerming en herlewing van ekostelsels
# Die Verkiesingskommissie sal na verwagting môre sy lyste van verkose lede van die Nasionale Vergadering en die provinsiale wetgewers aan Hoofregter Raymond Zondo oorhandig. Die parlementêre lys word dan aan die sekretaris van die Parlement voorgelê ter voorbereiding van die eerste sitting van die Nasionale Vergadering en die provinsiale lyste aan die regters-president wat sal voorsit tydens die eerste sitting van die wetgewers. Die Grondwet bepaal die eerste sitting van die Nasionale Vergadering moet plaasvind binne 14 dae nadat die verkiesingsuitslae bekendgemaak is.
# Cosatu sê hy is teleurgesteld met die eerste kwartaal vanjaar se afname van 0,1-persent in die Bruto Binnelandse Produk. Die vervaardigingsbedryf het in die eerste kwartaal met 1,4-persent afgeneem wat minus 0,2 van ‘n persentasiepunt tot die negatiewe BBP-groei bygedra het. Zanele Sabela van Cosatu sê om die ekonomie te laat groei moet Eskom se onderhoud- en opwekkingsbeleggings versnel word, plaaslike regering moet voldoende hulpbronne en vermoë kry en die stryd teen misdaad en korrupsie moet vinniger plaasvind:
# ActionSA in KwaZulu-Natal sê hy het ‘n deeglike bepaling gedoen van die nasleep van die verwoestende stormweer in dele van die provinsie. Hewige reën en storms, onder meer in Tongaat, het reeds die lewens van elf mense geëis. Meer as eenduisend gesinne is dakloos gelaat. Halalisani Ndlovu van ActionSA sê hulle het kos, water en komberse geskenk aan diegene wat geraak word, en sal voortgaan om ondersteuning en hulp te verleen:
# Rugby: Glasgow Warriors beskou die Springbok-losskakel van die Stormers, Manie Libbok, as die gevaarman in Saterdag se kwarteindstryd in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die gashere beskryf die Wêreldbeker-wenner as ‘n kulkunstenaar en hulle sal hom teiken in die Skotse stad. Volgens die aanvalsafrigter, Nigel Carolan, is Libbok een van die beste losskakels in die sport en sê die Stormers presteer nie so goed as hy nie op sy beste is nie. Afskop in Scotstoun is om 8:35 Saterdagaand.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-223-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-337-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-47-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Vandag is Wêreld-omgewingsdag met die tema, Grondherstel, Woestynvorming en Droogteweerstandigheid. Grondherstel is ‘n basiese beginsel van die Verenigde Nasies se veldtog, Dekade van Ekostelsel-herstel, wat ‘n oproep is om ekostelsels reg deur die wêreld te beskerm en te laat herleef. Die Koninkryk van Saoedi-Arabië sal vanjaar se wêreldwye vieringe aanbied. Die VN-omgewingsprogram se uitvoerende direkteur, Inger Andersen, sê die klimaatkrisis plaas die wêreld se ekostelsels onder geweldige druk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….