Nuus 08:00
BULLETIN 15 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema dien ‘n dringende mosie in om Ramaphosa in staat van beskuldiging te plaas oor Phala Phala
# Die Gesondheidsdepartement bevestig A-pokke-gevalle styg tot sewe
# En, rugby: Die Curriebeker-eersteliga skop groot af
# Die EFF-president, Julius Malema, het ‘n dringende mosie by die speaker van die Parlement, Thoko Didiza, ingedien vir die samestelling van ‘n komitee om president Cyril Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging te plaas. Die adjunk-president van die EFF, Floyd Shivambu, sê die verslag van ‘n onafhanklike paneel het bevind daar is ‘ n prima facie saak om Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging te plaas oor die Phala Phala aangeleentheid:
Die sekretaris-generaal van die ANC Fikile Mbalula sê intussen die party het vergader met al die ander partye, behalwe ActionSA en United Africans Transformation, met voortgesette uitreik-pogings. In die wandelgange van die eerste sitting van die sewende Parlement in Kaapstad het Mbalula gesê die ANC skakel ook steeds met die MK-party. Hy noem sukses met regerings van nasionale eenheid in ses provinsies, waaronder Gauteng en KwaZulu-Natal:
# Die Departement van Gesondheid het ‘n styging aangekondig in die aantal gevalle van A-pokke, wat nou op sewe staan. Al die pasiënte leef met chroniese siektes soos MIV, wat dui op die waarskynlikheid van immuno-kompromie as daar nie voldoen word aan voorgeskrewe behandeling nie. Foster Mohale van die departement sê die jongste geval, ‘n 39-jarige man van Northcliff, Gauteng, is opgeneem in ‘n Kaapstad hospitaal met groot letsels:
# Oekraïne se ministerie van Buitelandse Sake het die Russiese president Vladimir Putin se skietstakingsplan as “manipulerend”en “absurd” beskryf, en bedoel om die “internasionale gemeenskap te mislei.” Putin het gister ‘n “onmiddellike” skietstaking beloof as Oekraïne sy troepe uit die vier streke onttrek wat Moskou geannekseer het, en sy planne om by NAVO aan te sluit, laat vaar. Kiëf sê Putin se voorstelle ondermyn diplomatieke pogings vir ‘n regverdige vrede. Switserland is die naweek die gasheer van talle wêreldleiers – maar nie van Moskou nie – oor die oorlog in Oekraïne.
# En, rugby: Die Eersteliga van die Curriebeker skop vandag groot af wanneer die Valke gasheer speel vir die verdedigende kampioene, die Boland Kavaliers in ‘n herhaling van verlede jaar se eindstryd. Hulle speel in die Barnard-stadion in Kemptonpark. Dit is een van drie wedstryde vandag en die afskoptyd is 3-uur. Die SWD Arende kom in die eerste kragmeting van die nuwe veldtog om 2-uur te staan teen die Oostelike Provinsie op die skilderagtige Outenikwapark in George, terwyl Grens die Luiperds drie-uur in Oos-Londen verwelkom.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….