Nuus 08:00
BULLETIN 2 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering veroordeel Israel se moord op Palestynse burgerlikes wat humanitêre hulp soek
# Die minister van Polisie beskuldig die DA van die verspeiding van waninligting oor die Joslin Smith-soektog
# En, rugby: Loftus gaan stampvol vir die Bulle-Stormers-kragmeting wees
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking veroordeel Israel se geteikende moord op 112 Palestynse burgerlikes wat humanitêre hulp gesoek het. Die departement kritiseer dit as ‘n skending van internasionale reg en die bindende voorlopige bevele van die Internasionale Geregshof. Suid-Afrika is besig om sy reaksie op Israel se hof-verslag voor te berei, terwyl oproepe toeneem vir hervormings om ‘n einde te bring aan wat as dekades-lange straffeloosheid beskou word. Die departement vra die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad vir ‘n onmiddellike en onvoorwaardelike wapenstilstand om die ontvouende humanitêre krisis te beëindig.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, beskuldig die DA van die verpolitisering van die sensitiewe saak oor die vermiste sewe-jarige Joslin Smith van Saldanhabaai in die Wes-Kaap. Cele het sy teleurstelling uitgespreek oor die party se poging om stemme te werf deur die publiek verkeerd in te lig en te beweer die polisie het aan die soektog onttrek. Die woordvoerder, Lirandzu Themba, sê die minister doen ‘n beroep op die DA om nie die pyn van ‘n gesin wat wag op hul kind se terugkeer uit te buit nie:
# Tshwane se Nooddienste-afdeling het 500 rookverklikker-alarms in die Plastic View informele nedersetting aangebring om ramprisiko te verminder. Charles Mabaso van die metro sê samewerking met brandbestryding-studente en nooddienste sal help om doeltreffende instelling te verseker:
# Zimbabwiese owerhede ondersoek ‘n bomwaarskuwing by die lughawe van Victoria Falls wat daartoe gelei het dat president Emmerson Mnangagwa sy besoek aan die Verenigde Nasies se Ekonomiese Kommissie vir Afrika-konferensie afgelas het. Hy was reeds op pad in ‘n private straler toe daar besluit is dat hy na die hoofstad, Harare, moet terugkeer. Die lughawe het ‘n e-pos van ‘n anonieme sender ontvang met, wat bestempel is as ‘n geloofwaardige bom- of vuurwapendreigement teen Zimbabwiese lughawens. Ander vliegtuie is na lughawens in buurlande herlei.
# Rugby: Daar is groot afwagting vir vanmiddag se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd tussen die Bulle en die Stormers op ‘n volgepakte Loftus Versfeld. Die span van Pretoria het in al vyf sy vorige wedstryde in die kompetisie teen hul aartsvyande verloor en wil dus nou ‘n punt bewys. In die ander Suid-Afrikaanse derby sal die Leeus gasheer wees vir die Haaie op Ellispark. Die Bulle is tans in die derde plek op die punteleer, die Stormers sesde, die Leeus elfde en die Haaie 16de.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….