Nuus 09:00
BULLETIN 30 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# NATJOINTS waarsku teen-buitelander-betogers om nie die geduld van die staat te toets nie
# Iran sê daar is geen beplande gesprekke met die VSA nie, ten spyte van Trump se bewerings
# En sokker: Paraguay stuit Duitsland om die Wêreldbeker se ronde van 16 te haal
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, NATJOINTS, sê wetstoepassingsagentskappe sal vinnig, bepalend binne die wet, en in verhouding optree teen misdadigheid. Veiligheid is verskerp in aanloop tot betogings teen immigrante wat vir vandag beplan word. NATJOINTS se voorsitter, Tebello Mosikili, sê gebeurlikheidsplanne is getoets en voeg by die lugvleuel sal waar nodig waarneming en operasionele ondersteuning verskaf. Sy waarsku diegene wat die wet wil oortree om nie die staat se geduld te beproef nie:
Intussen vra die IVP mense wat vandag aan die landwye betogings deelneem, om hul grondwetlike reg uit te oefen om vreedsaam, verantwoordelik en binne die wet te betoog. Die polisie waarsku dat misdadigheid, intimidasie, aanhitsing tot geweld en vernietiging van eiendom nie geduld sal word nie. Die IVP se nasionale woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, sê hulle erken baie Suid-Afrikaners se kommer oor onwettige immigrasie, maar dit moenie oorskadu word deur onwettige optrede nie:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê met die aanvaarding van die Stad van Hoop-begroting vir 2026/2027, het die metro sy rekordbelegging van 40-miljard-rand vir basiese infrastruktuur vir die volgende drie jaar verseker. Die begroting sluit ook uitgebreide verligting in vir laer- en middel-inkomste-huishoudings. Hill-Lewis sê sowat 130-duisend konstruksie-verwante werksgeleenthede sal net in die huidige ampstermyn geskep word met 75-persent van die infrastruktuurbesteding wat lae-inkomste huishoudings regstreeks bevoordeel:
# Iran se ministerie van Buitelandse Sake sê daar is tans geen onderhandelingsgesprekke met die Verenigde State nie. Dit volg ten spyte van president Donald Trump se aankondiging dat Teheran tot verdere vredesgesprekke ingestem het, met verteenwoordigers van albei lande wat vandag in Doha, Katar, sal vergader. Die woordvoerder van Iran se ministerie van Buitelandse Sake, Esmaeil Baghaei, sê Teheran se huidige prioriteit is om die instelling van die bepalings in die memorandum van ooreenkoms te verseker en sy eise ingevolge die ooreenkoms af te dwing. Hy sê nie een van die lande is tans besig met onderhandeling oor ‘n finale ooreenkoms nie.
# Sokker: Duitsland, die viermalige kampioene, is by die Wêreldbeker uitgeskakel nadat hulle in Boston met strafskoppe teen Paraguay verloor het. Die wedstryd het na ekstra tyd met een-elk geëindig. Kai Havertz, Nick Woltemade en Jonathan Tah het hul kanse verspeel en Paraguay het die uitspeelstryd met 4-3 gewen. Hulle kom in die laaste 16 teen Swede of die tweemalige kampioene, Frankryk, te staan. In Houston het Brasilië Japan met 2-1 verslaan en takel nou Ivoorkus of Noorweë. Marokko het Nederland 3-2 met strafskoppe geklop en speel in die laaste 16 in Monterey teen die medegasheerland, Kanada.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-74-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-908-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-970-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 73-dollar-47-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….