Nuus 07:00
BULLETIN 25 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Uitspraak word voorbehou in Carrim se aansoek om uitstel by die Madlanga-kommssie
# ‘n Gewilde KwaMashu-sangoma is in hegtenis geneem oor ‘n drie-dubbele moordsaak in 2020
# En: Eskom behaal sy beste kragprestasie in nege jaar
# Die Madlanga-kommissie het uitspraak voorbehou oor die sakeman van Noordwes, Suliman Carrim se vyfde aansoek om sy getuienis uit te stel. Carrim sê swak gesondheid ná ‘n hartaanval het hom daarvan weerhou om te verskyn. Die getuienisleier Adila Hassim het die versoek teengestaan en kringtelevisie-beeldmateriaal en selfoon-liggingsdata voorgelê wat bewerings dat Carrim se bewegings streng beperk was, weerspreek. Die Kommissievoorsitter Mbuyiseli Madlanga sê uitspraak sal binnekort gelewer word:
# Die KwaZulu-Natal politieke moordtaakspan het ‘n tradisionele geneser van KwaMashu in hegtenis geneem wat daarvan beskuldig word dat hy die moorde op die ANC-jeugliga-lid Thamsanqa Gcabashe, die eThekwini-metropolisiebeamptes Lindokuhle Madonsela, en Ndumiso Thusi in 2020 beplan het. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe sê die verdagte sal na verwagting Maandag in die Hammarsdale-landdroshof verskyn, terwyl vyf ander beskuldigdes reeds tereg staan op aanklagte van moord en sameswering om moord te pleeg:
# Solidariteit sê senior polisieleiers moet beoordeel word op hoe goed hulle misdaad bekamp, nie op transformasiedoelwitte nie. Die vakbond het gereageer op ‘n besluit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om transformasie en verskeidenheidsbestuur in te sluit by senior bestuurders se prestasiebeoordelings. Theunis van Staden van Solidariteit voer aan met die hoë vlakke van geweldsmisdaad moet polisieleiers eerder beoordeel word op hul sukses met die vermindering van misdaad, die verbetering van ondersoeke, die bekamping van korrupsie en die herstel van openbare vertroue.
# Eskom se opwekkingsherstelplan verbeter steeds die kragstelsel se betroubaarheid, met die Energie Beskikbaarheidsfaktor wat op die 20ste Julie 80,24-persent bereik het, die hoogste daaglikse vlak sedert September 2017. Onbeplande onderbrekings het tot hul laagste vlak sedert Julie 2018 gedaal. Geen diesel is tussen 17 en 23 Julie gebruik nie, wat dieselbesteding met meer as 85-persent op ‘n jaargrondslag verminder het. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê Suid-Afrika het ook 434 agtereenvolgende dae sonder beurtkrag aangeteken:
# Die Internasionale Monetêre Fonds sê Afrika suid van die Sahara kan sy ekonomie in die volgende dekade met sowat 4-persent uitbrei met die gebruik van kunsmatige intelligensie. Die organisasie waarsku egter in ‘n nuwe verslag dit kan slegs gebeur indien regerings dringend knelpunte in elektrisiteitsvoorsiening, internettoegang en digitale vaardighede oplos. Die fonds sê die aanvaarding van KI sonder hervormings sal groei van slegs 0,2-persent oplewer. Afrika beskik tans oor ongeveer 160 datasentrums, wat net 5,5-persent van die wêreldtotaal verteenwoordig. Byna die helfte is in slegs drie lande gevestig, Suid-Afrika, Nigerië en Kenia.
# En rugby: Die Vrystaat Cheetahs het die Haaie XV met 43-21 in ‘n tweede ronde Curriebeker-kragmeting gister in Bloemfontein verslaan. Die gashere het sewe drieë teen die besoekers se drie ingeryg vir ‘n bonuspuntoorwinning. Die vleuel Prince Nkabine het ‘n driekuns behaal met die veteraan Springbok skrumskakel Faf de Klerk wat nog twee vir die Vrystaters bygevoeg het. Die rustydtelling was 14-elk. Vamiddag pak die Leeus die Pumas op Ellispark om drie-uur, en die verdedigende kampioene, die Griekwas, kom net na vyfuur in Kimberley teen ‘n Bulle-15-tal te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….