Nuus 07:00
BULLETIN 1 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskeie partye in die Wes-Kaap het ‘n dringende beswaar by die Verkiesingskommissie ingedien
# AgriSA sê die daling in voedselinflasie bied verligting vir Suid-Afrikaanse huishoudings
# En Joe Biden sê Israel het ‘n drie-fase plan voorgestel om die oorlog in Gaza te beëindig
# Talle politieke partye in die Wes-Kaap het ‘n dringende beswaar by die Verkiesingskommissie ingedien in die toegelate tyd wat gisteraand negeuur gesluit het. Daar is 16 handtekeninge op die brief aan die OVK wat Vrydagaand ingedien is. Dit sluit in die Vryheidsfront Plus, EFF en GOOD-party. Die partye beweer daar was onreëlmatighede in stemdistrikte en vra dat die stemme oorgetel word. Die OVK-hoof in die provinsie, Michael Hendrickse, sê die besware sal ondersoek word:
Nog verkiesingsnuus is met 96-persent van die stemdistrikte met verwerkte verkiesingsuitslae, het die ANC 40,21-persent van die nasionale stemme verwerf. Die DA was tweede met 21,71-persent, terwyl die MK-party op 14,74 gestaan het. Die MK-party is voor in KwaZulu-Natal met 45,29-persent gevolg deur die IVP met 18-persent en die ANC is derde met 16,99-persent. In Gauteng is die ANC steeds voor met 34,34-persent gevolg deur die DA met 27,91-persent. In die Wes-Kaap behou die DA sy meerderheid met 55,27-persent gevolg deur die ANC met 19,48-persent.
# AgriSA sê Suid-Afrikaanse huishoudings ervaar verligting ná ‘n beduidende daling in voedselinflasie. Die daling van 5,1-persent in Maart tot 4,7-persent in April, is die laagste koers sedert September 2020. Volgens Statistieke Suid-Afrika behoort noodsaaklike items soos brood, eiers en graanprodukte nou meer bekostigbaar te wees. Vrugte en groente toon egter hoër inflasie, waarskynlik as gevolg van die El Niño-verskynsel en beurtkrag-uitdagings. Die organisasie sê weerstoestande, wêreldmarkte en binnelandse beleid hou risiko’s in, wat die noodsaak beklemtoon van strategiese beplanning en samewerking vir langtermyn-voedselsekerheid.
# Die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, NATJOINTS, verwelkom die inhegtenisneming van twee beweerde aanhitsers van die taxi-verwante staking wat Maandag belangrike roetes na Mthatha versper het. Mthuthuzeli Sogoni en Ncebo Nkosi is in Mthatha opgespoor en in hegtenis geneem. Die woordvoerder, Athlenda Mathe, sê albei het op aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld in die hof verskyn en beide is borgtog van drie-duisend-rand toegestaan:
# Die Amerikaanse president Joe Biden sê Israel het ‘n omvattende nuwe skietstilstand-ooreenkoms aan Hamas voorgestel. Israel se inval in Rafah vroeër in Mei het ‘n nuwe fase ingelei in sy oorlog teen Hamas in Gaza, wat reeds meer as 36-duisend Palestynse lewens geëis het. Hamas het in Oktober verlede jaar meer as een-duisend-200 mense doodgemaak en meer as 200 uit Israel ontvoer. Biden sê Israel het ‘n drie-fase-plan voorgestel, wat ‘n wapenstilstand van ses weke behels wat permanent sal word, gevolg deur die heropbou van Gaza met internasionale hulp:
# En rugby: Die 40-jarige voormalige Springbokslot, Willem Alberts, voer die Leeus vandag aan in die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd teen die Stormers in Kaapstad. Die Leeus benodig ‘n bonuspunt-oorwinning oor die gashere om steeds ‘n kans te staan om onder die top agt te eindig. Die Stormers is tans in die vyfde plek en het alles om voor te speel om onder die top vier te eindig. Die Bulle kan bo-aan die punteleer eindig indien hulle die Haaie in Durban klop en ander uitslae hulle bevoordeel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….