Nuus 06:00
BULLETIN 1 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Met 95% van die stemdistrikte verwerk, lei die ANC steeds met 40%
# Beurtkrag is nou reeds opgeskort vir 65 dae
# En Donald Trump se pad na die Withuis is steeds oop
# Met 95-persent van die stemdistrikte wat ‘n rukkie gelede verwerk is, het die ANC 40,64-persent van die nasionale stemme verwerf. Die DA was tweede met 22,51-persent, terwyl die MK-party op 14,39 gestaan het. Die MK-party is voor in KwaZulu-Natal met 45,03-persent gevolg deur die IVP met 19,08-persent en die ANC is derde met 17,43-persent. In Gauteng is die ANC steeds voor met 34,38-persent gevolg deur die DA met 27,69-persent. In die Wes-Kaap behou die DA sy meerderheid met 55,11-persent gevolg deur die ANC met 19,47-persent.
Die adjunkpresident van die EFF, Floyd Shivambu, het intussen die rol van die MK-party erken in die verswakking van die ANC se magsbasis. Die MK-party is na die verkiesing nasionaal in die derde plek. Shivambu het by die Verkiesingsuitslagsentrum gesê hy neem kennis van MK se oorwinning oor die EFF, en die steun van meer as een-miljoen EFF-ondersteuners geloof. Hy het die EFF se rol bevestig in koalisiegesprekke, wat ten doel het om binne 14 dae ‘n nuwe regering te vorm:
In nog verkiesingsnuus het die DA sy kommer uitgespreek oor wat hy noem, teenstrydighede by drie stemlokale in die Nelson Mandelabaai-metro in die Oos-Kaap. Volgens News24 het die Verkiesingskommissie in die provinsie bevestig die DA het ‘n klag ingedien en ‘n ondersoek geëis na dié teenstrydighede. Die verkiesingsbeampte, Kayakazi Magudumana sê die Verkiesingskommissie sal wag op ‘n besluit oor die beswaar deur die nasionale kantoor. Magudumana sê die bevestiging van die uitslae, op nasionale vlak, sal môreaand gedoen word.
# Eskom sê die voortdurende verbetering in die betroubaarheid van sy opwekkingsvloot lei daartoe dat beurtkrag opgeskort bly tot verdere kennisgewing. Beurtkrag is tans vir 65 opeenvolgende dae opgeskort. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die Operasionele Opwekkingsherstelplan en uitgebreide beplande instandhouding, lewer betroubare en beskikbare kragopwekking:
# Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, kan steeds na die Withuis terugkeer, al is hy skuldig bevind op 34 aanklagte vir die vervalsing van sakerekords. Dit was deel van sy geheime-geldskema om sy beweerde seksuele ontmoeting met die voormalige porno-ster Stormy Daniels te laat verdwyn. Die regskenner, Elizabeth Wydra, wys daarop niks verhoed Trump om verkies te word nie, al is hy tydens die verkiesing in die tronk. Sy sê die Amerikaanse Grondwet stel slegs drie hoofvereistes vir die presidentskap, en om ‘n veroordeelde misdadiger te wees beteken nie ‘n diskwalifikasie nie.
# En laastens krieket: Suid-Afrika het nog nie tevore ‘n Krieket Wêreldbeker-eindstryd gehaal nie. Die Proteas gaan probeer om die eerste, belangrike wêreldwye senior kriekettitel vir die land in te palm by die T20 Wêreldbeker, wat volgende naweek in die Wes-Indiese Eilande en Amerika begin. Suid-Afrika begin sy veldtog Maandag teen Sri Lanka in New York. Die kaptein van die Proteas, Aiden Markram, sê die kerngroep spelers in die huidige nasionale groep kan die Wêreldbeker verower:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….