Nuus 08:00
BULLETIN 1 Junie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA sê hy is verantwoordelik vir die ANC se verlies van sy parlementêre meerderheid
# Altesaam 68 verkiesingsverwante sake is in KwaZulu-Natal aangemeld
# En Donald Trump onderneem om teen sy skuldigbevinding te appelleer
# Die president van ActionSA, Herman Mashaba, skryf die party se swak verkiesingsuitslae toe aan die opkoms van die MK-party, wat volgens hom aansienlike uitdagings vir verskeie politieke partye meegebring het. Hy het by die uitslagsentrum in Midrand gesê hy aanvaar krediet vir die ANC se verlies van ‘n parlementêre meerderheid en beplan om volgende week met beplanning vir die plaaslike regeringsverkiesing te begin, met inagneming van MK. Hy bly optimisties en sien uit na ‘n paar setels in die Nasionale Vergadering:
En steeds op die verkiesingsfront: Met 97-persent van die stemdistrikte wat ‘n rukkie gelede verwerk is, het die ANC 40,14-persent van die nasionale stemme ontvang. Die DA was tweede met 21,71-persent, terwyl die MK-party op 14,82 gestaan het. Die MK-party is voor in KwaZulu-Natal met 45,29-persent gevolg deur die IVP met 18-persent en die ANC is derde met 16,99-persent. In Gauteng is die ANC steeds voor met 34,34-persent gevolg deur die DA met 27,91-persent. In die Wes-Kaap behou die DA sy meerderheid met 55,27-persent gevolg deur die ANC met 19,48-persent.
KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, sê intussen die verkiesing was ‘n uitdaging. Agt-en-sestig sake wat met die verkiesing verband hou, is in die provinsie geregistreer en 24 verdagtes is gearresteer. Drie verdagtes is steeds agter tralies terwyl ander op borgtog vrygelaat is. Mkhwanazi sê hulle het ook meer as 900 betogings hanteer:
# Oudpresident Donald Trump sê hy gaan teen sy skuldigbevinding dat hy sakerekords vervals het, appelleer en sê hy het niks verkeerd gedoen nie. ʼn New Yorkse hof het hom skuldig bevind op al 34 aanklagte in die swyggeld-saak. Aanklaers beskuldig Trump dat hy deel was van ʼn onwettige sameswering om die integriteit van die presidentsverkiesing in 2016 te ondermyn. Trump sê die verhoor was baie onregverdig:
# En om mee af te sluit, tennis: Derde gekeurde Carlos Alcaraz, wat met ʼn armbesering sukkel, is deur na die laaste 16 by die Franse Ope. Hy het die Amerikaner Sebastian Korda met 6-4, 7-6, 6-3 geklop. Jannik Sinner van Italië het sy perfekte begin voortgesit en Pavel Kotov van Rusland met 6-4, 6-4, 6-4 verslaan. Die negende gekeurde Griek, Stefanos Tsitsipas, het Zhang Zhizhen van China in skoon stelle afgeransel. In die vroue-afdeling het die verdedigende kampioen, Iga Swiatek, in die derde ronde die Tsjeg, Marie Bouzkova, met 6-4, 6-2 geklop. Ons Jabeur van Tunisië en Anastasia Potapova van Rusland het ook gewen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….