Nuus 09:00
BULLETIN 1 Junie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingshof sal volgende week die MK-stigter Jabulani Khumalo se aansoek aanhoor
# Ace Magashule beweer die Verkiesingskommissie het geknoei met die verkiesing
# En in rugby: Die Bulle stuur ’n onveranderde wedstrydgroep van 23 om die Haaie aan te durf
# Die Verkiesingshof sal Maandag Jabulani Khumalo se aansoek aanhoor teen die Verkiesingskommissie se besluit om hom te verwyder en oudpresident Jacob Zuma as president van die MK-party aan te stel. Nadat 96-persent van die stemdistrikte afgehandel is, is die MK-party tans op nasionale vlak die derde grootste party. Khumalo sê die hof moet die kommissie se besluit as ongeldig en onregmatig verklaar. Hy sê Zuma, wat slegs die gesig van die MK-verkiesingsveldtog was en geen amptelike posisie in die party beklee nie, het eensydig besluit om hom te skors.
Die leier van die African Congress for Transformation, Ace Magashule, beweer intussen die Verkiesingskommissie het gekul met die verkiesing. Magashule se nuut-geregistreerde party was op die streek- en provinsiale stembriewe, maar het nie aan die vereistes voldoen vir die Nasionale Vergadering nie. Met byna 99-persent van die Vrystaat wat getel is, het ACT tans net meer as 15-duisend stemme. Magashule sê daar is baie onreëlmatighede wat hulle kan bewys:
En, die jongste verkiesingsuitslae is dat die ANC steeds voorloop op nasionale vlak terwyl die Verkiesingskommissie byna al die uitslae afgehandel het. Voorlopige uitslae toon die ANC het 40,14-persent, gevolg deur die DA met 21,72-persent en die MK-party met 14,82-persent. In KwaZulu-Natal loop MK voor met 45,34-persent, gevolg deur die IVP met 18,02-persent en die ANC met 16,98. In Gauteng het die ANC 34,32-persent, gevolg deur die DA en die EFF. Die DA behou sy meerderheid in die Wes-Kaap met 55,33-persent, gevolg deur die ANC met 19,45-persent van die stemme.
# Rugby: Die Bulle het ‘n onveranderde span behou vir hulle kragmeting vandag teen die Haaie in Durban in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die 23 spelers het die spanne van Ospreys en Benetton albei met groot tellings ore aangesit. Daar is slegs ‘n posisionele verandering met Johan Grobbelaar wat op haker by Akker van der Merwe oorneem. Die veelsydige agterspeler, Sebastian de Klerk, begin op die bank en sê hulle gaan hou by hulle aanvallende benadering:
# En om op ‘n treurige noot af te sluit: Die gewese Amerikaanse presidentsvrou, Michelle Obama, se ma is op 86-jarige leeftyd dood. Marian Robinson het tussen 2009 en 2017 tydens oudpresident Barack Obama se termyn in die Withuis gewoon. Michelle Obama sê in ‘n verklaring haar ma was haar rots en altyd beskikbaar as sy haar nodig gehad het. Sy sê sy was dieselfde bestendige ondersteuning vir die hele gesin en hulle harte is gebreek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….