Nuus 06:00
BULLETIN 7 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC wil ‘n regering van nasionale eenheid vorm
# President Ramaphosa sê die ANC het opbouende samesprekings met partye gevoer
# En die VN veroordeel ‘n dodelike Israelse aanval op een van sy skole in Gaza
# President Cyril Ramaphosa sê die ANC se nasionale uitvoerende komitee het besluit om ‘n aanbod aan die meeste politieke partye te maak om by ‘n regering van nasionale eenheid aan te sluit. Dit volg nadat die party nie meer as 50-persent van die stemme in die algemene verkiesing van 29 Mei kon behaal nie. Ramaphosa sê ‘n regering van nasionale eenheid is die mees lewensvatbare, doeltreffende en kragtige manier om aan die verwagtinge van alle Suid-Afrikaners op hierdie oomblik te voldoen:
Ramaphosa sê voorts die ANC het reeds samesprekings begin met die DA, EFF, IVP, NFP en die Patriotic Alliance, met die oog op ‘n regering van nasionale eenheid. Ramaphosa sê die ANC het met ‘n oop gemoed in gesprek met politieke partye getree en is van plan om met alle partye te praat wat ‘n verklaarde voorneme het om die belange van die mense te bevorder:
# Die MK-party het bevestig dat hy met die ANC oor koalisiebesprekings vergader het. Die ANC sê hy het uitgereik na alle politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is in sy pogings om ‘n koalisieregering te vorm. Die MK-party sê hy sal binnekort verder met die ANC vergader om sy standpunte te hoor. Hy voeg by enige koalisie moet fokus op die uitwissing van die stelsels wat die langdurige politieke onderwerping en ekonomiese verknegting van die Suid-Afrikaanse meerderheid en swart mense in die besonder bewaar en ondersteun.
# Gauteng se Onderwys-LUR Matome Chiloane veroordeel die noodlottige skietery op ‘n sewe-jarige leerder van Lesedi Primary School in Soshanguve en haar vier-jarige sussie in hulle huis. Sy woordvoerder Steve Mabona sê die departement het vinnig departementele en Childline-maatskaplike werkers ontplooi om berading en traumasteun by die skool en aan die bedroefde familie te gee. Hy bevestig die polisie ondersoek die tragiese voorval:
# Die Verenigde Nasies se Hulp- en Werke-agentskap vir Palestynse Vlugtelinge sê die aanval op of gebruik van VN-geboue vir militêre doeleindes is ‘n blatante verontagsaming van Internasionale Humanitêre Reg. Dit kom nadat ‘n Israelse lugaanval op ‘n VN-skool vol Palestynse vlugtelinge in Sentraal-Gaza ten minste 35 slagoffers geëis het. Israel se weermag sê hulle het ‘n presisie-aanval op ‘n Hamas-basis in die skool uitgevoer. Die agentskap sê meer as 180 van sy geboue is getref en meer as 450 dakloses is dood.
# Rugby: Die Bulle-vleuel Canan Moodie sal weens ‘n besering nie Saterdag uitdraf in die Verenigde Rugbykampioenskap-kwarteindstryd teen Benetton op Loftus Versfeld nie. Die Springbok Wêreldbeker-wenner is beseer tydens die Bulle se sege van 26-14 oor die Haaie verlede naweek. Sebastian de Klerk is Moodie se waarskynlike plaasvervanger op vleuel. Moodie het hierdie seisoen tien drieë in 14 wedstryde vir die Bulle in al die kompetisies gedruk. Die flank Marco van Staden sal waarskynlik ook die wedstryd met ‘n besering misloop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-93-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-800-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-375-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-93-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….