Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 07 Junie 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die ANC se nasionale uitvoerende komitee het besluit om ‘n aanbod aan die meeste politieke partye te maak om by ‘n regering van nasionale eenheid aan te sluit.
# En Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf dit lyk nie of Jacob Zuma en die MK-party belangstel in ‘n regering van nasionale eenheid nie.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig ook oor president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die NUK besluit het om die roete van ‘n regering van nasionale eenheid te neem en nasionale dialoog op grond van gemeenskaplike waardes te voer. Die waardes sluit in respek vir die Grondwet en die oppergesag van die wet.
Dan skryf die koerant die Nkomazi-munisipaliteit het nog geen plan voorgestel om die oorbeweiding van Marlothpark aan te spreek nie.
En laastens is daar nuus oor Chané Dreyer van Limpopo wat ernstig beseer is toe ‘n trekker in die VSA oor haar kop gery het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf, volgens kenners sou dit nie wys wees indien die ANC nou enige tugstappe teen oudpresident Jacob Zuma doen nie.
En berig die gewese minister Zizi Kodwa staar na wat berig word verdere probleme in die gesig.
# Sowetan:
Berig daar is daadwerklike verskille oor sleutelkwessies tussen die partye wat nou met ANC onderhandel. Dit sluit in nasionale gesondheidsversekering, grondonteiening en die steun aan Palestina.
# En The Citizen:
Lei met: “WHAT GOV MUST DO IN 180 DAYS”. Die koerant skryf oor die stappe wat die regering moet volg indien ‘n koalisie die beheer oorneem.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die ANC voer ook gesprek met die MK-party, maar het reeds met die meeste ander partye samesprekings gevoer.
En tweedens skryf die koerant Grey Kollege oorheers die Vrystaatse Cravenweek-span wat teen die Griekwas gaan uitdraf.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Beeld oor die voorgestelde regering van nasionale eenheid.
En tweedens skryf die koerant twee gevangenes in die Thaise tronk waar die Suid-Afrikaner, Ashley Oosthuizen tronkstraf uitdien, is aan griep oorlede.
# En Cape Times:
Skryf die MK-party sê hy is nou gereed om met die ANC te onderhandel.
En berig senior ANC-ministers soos Naledi Pandor en Bheki Cele gaan nie terugkeer Parlement toe nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die stormskade in Nelson Mandelabaai word op een-miljard-rand gereken.
En skryf die motorbedryf in die Baai kry nog ‘n inspuiting met die vestiging van Stellantis wat onder meer Maserati, Chrysler, Citroën, Jeep en Opel vervaardig.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf ook oor die senior ANC-lede wat nie terugkeer Parlement toe nie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Windhoek-munisipaliteit stel voor dat kragtariewe met 10,3-persent verhoog word. Krag in die hoofstad sal dan 3-rand-3-sent per eenheid kos.
Dan skryf die koerant die Walvisbaai-munisipaliteit gaan vandag ‘n strafregtelike klagte indien teen die skuldinvorderaar RedForce.
En laastens is daar nuus oor ‘n geldinsamelingsprojek vir die Ruach Elohim-stigting in Swakopmund wat ‘n veilige tuiste bied vir kwesbare kinders.