Nuus 06:00
BULLETIN 2 Junie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die opname van die finale verkiesingsuitslae is voltooi
# Die OVK ontvang meer as 500 besware
# En Netanyahu dring daarop aan daar sal geen wapenstilstand wees voordat Hamas nie verslaan is nie
# Die Verkiesingskommissie sê 100-persent van die stemme is getel en aangeteken. Die ANC het 40,19-persent van die nasionale stemme gekry, gevolg deur die DA met 21,08-persent, die MK Party is derde met 14,58-persent, vierde is die EFF met 9,51-persent en die IVP rond die topvyf af met 3,85-persent. Die kommissie sal vanaand die resultate bekendmaak. Die kommissievoorsitter, Mosotho Moepya sê alle stelsels het regdeur die proses gewerk en is nie gekompromiseer nie:
Die kommissie sê intussen hy het 579 klagtes ontvang nadat hy die spertyd vir besware tot gisteraand uitgestel het. Die uitstel volg nadat 17 politieke partye in die Wes-Kaap ‘n dringende beswaar onder Artikel 55 van die Kieswet gemaak het. Die klagtes is ingedien voordat die uitslae afgehandel was. Die OVK-voorsitter, Mosotho Moepya, sê hulle hanteer ook 24 gevalle waar stemme oorgetel word, maar dis nie ernstig genoeg om ʼn verkiesing se uitslag te verander nie:
# Die Patriotic Alliance sê hy sal met enige party saamwerk om ‘n koalisie te vorm. Die leier van die PA, Gayton McKenzie, het egter benadruk hy sal geen toegewing maak oor die party se standpunt oor onwettige immigrante nie. McKenzie het by die Uitslagsentrum in Midrand aangedring op beheer oor die Departement van Binnelandse Sake as deel van enige koalisie-ooreenkoms:
# Israel se eerste minister Benjamin Netanyahu hou vol daar sal geen permanente wapenstilstand in Gaza wees nie totdat Hamas se militêre en regerende vermoëns vernietig is en totdat álle gyselaars vrygelaat is. Dit volg op die Amerikaanse president, Joe Biden, se aankondiging van ‘n drie-fase plan wat deur Israel voorgestel is, wat sal lei tot ‘n permanente wapenstilstand. Te midde van voortdurende gevegte in Rafah, het Netanyahu se kantoor Israel se onversetlike standpunt herbevestig, dat Hamas eers verslaan en gyselaars se vryheid verseker moet wees, voordat enige wapenstilstand-ooreenkoms ‘n werklikheid sal word.
# En ten slotte rugby: Akker van der Merwe het met twee drieë ‘n bonuspuntsege van 26-14 vir die Bulle oor die Haaie besorg en ‘n tweede plek in die Verenigde Rugbykampioenskap in Durban laat behaal. Die verdedigende kampioen, Munster, het die topposisie in die uitspeelwedstryde behaal deur Ulster met 29-24 te klop. Munster sal nou teen die Ospreys in die eerste kwarteindstryd op Thomond Park, Limerick uitdraf, terwyl die Bulle vir Benetton op Loftus Versfeld in Pretoria sal ontvang.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….