Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 Junie
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# ‘n Een-en-negentigjarige man is die eerste persoon in Engeland wat ‘n rewolusionêre kunsmatige kornea ontvang het. Volgens Cecil John Farley verbeter sy sig nou danksy die prosedure. Hy is verheug oor die oorplanting, want hy kan nou weer sy 85-jarige vrou, Elizabeth, behoorlik sien. Pasiënte met kornea-skade moet dikwels lank wag vir ‘n menslike oorplanting. Die kunsmatige toestel sal wagtye inkort en die risiko van verwerping van die kornea van ‘n menslike skenker, uitskakel.
# Die George-munisipaliteit se Pacaltsdorp-biblioteek het ‘n mini-biblioteek geskep vir siggestremdes. Die projek word deur die Departement van Kuns en Kultuur en die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir Siggestremdes befonds. ‘n Woordvoerder van die munisipaliteit, Ntobeko Mangqwengqwe, sê die doel is om toegang tot leesmateriaal te voorsien deur middel van spesifieke toestelle en noodsaaklike toerusting:
# Terwyl Gauteng onder ‘n kouefront deurloop, het die Rosebank Rotariërs se Handmade with Love-span gebreide mussies aan die Charity Begins With Me-organisasie geskenk. Die stigter, Stephen Ferreira, wat die organisasie in 2016 ná sy kankerdiagnose gestig het, is steeds die voorvatter ten spyte van sy gesondheidstryd. Hy sê die mussies sal veral die volgende paar dae handig te pas kom omdat groot koue verwag word.
# Padwedlope: Sestig personeellede, studente en oudstudente van die Universiteit Stellenbosch gaan Sondag onder die #Move4Maties-vaandel aan die 97ste Comrades-marathon deelneem. Die wedloop begin by die Durbanse stadsaal en eindig ná ʼn afstand van 85,91 kilometer op die Scottsville-renbaan in Pietermaritzburg. Die veldtog wil fondse insamel vir studente wat nie kwalifiseer vir hulp van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente nie, maar nie universiteitsopleiding kan bekostig nie. Meer as 44-duisend-rand is al ingesamel.
# En ten slotte: Die Amerikaanse sangeres en liedjieskrywer Cyndi Lauper gaan van Oktober tot Desember ‘n afskeidstoer onderneem, wat ook haar eerste groot toer in tien jaar sal wees. Die 70-jarige Lauper sal op die The Girls Just Wanna Have Fun-toer in 23 stede regoor Noord-Amerika optree. Dit skop op 18 Oktober in Montreal, Kanada, af. Lauper het twee maal ‘n Grammy ontvang en is veral bekend vir Girls Just Want to Have Fun en Time After Time.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….