Nuus 14:00
BULLETIN 21 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie ontplooi ‘n spesiale span ná ‘n bomdreigement op die King Phalo-lughawe in die Oos-Kaap
# Minister Godongwana sal na verwagting ‘n beter fiskale vooruitsig in sy tussentydse begroting uiteensit
# En krieket: Jansen laat Australië steier op die vierde oggend in Gqeberha
# Die Oos-Kaapse polisie het ‘n multidissiplinêre reaksiespan ontplooi ná ‘n bomdreigement oor ‘n vliegtuig op die King Phalo-lughawe in KuGompo City. Woordvoerder Nobuntu Gantana sê ‘n anonieme oproep het beweer daar is ‘n bom aan boord. Al 184 passasiers het die vliegtuig veilig verlaat, terwyl dit ingevolge veiligheidsprosedures beveilig word. Die reaksiespan sluit plofstofkundiges, snuffelhonde en lughawe-veiligheidspersoneel in. Die ondersoek na die oorsprong van die dreigement duur voort.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sou pas met sy tussentydse begroting in die Parlement begin en sal na verwagting ‘n verbeterde fiskale vooruitsig bekend maak. Die Tesourie het meer beweegruimte danksy ‘n hoër belastinginkomste, deels aangevuur deur sterk winste in die mynbousektor. Ekonome verwag Godongwana sal fokus op die beperking van staatskuld, strenger beheer oor besteding en die moontlike instel van vaste begrotingsreëls. Druk neem ook toe vir die verligting van stygende brandstofpryse en lewenskoste, hoewel swak ekonomiese groei ruimte vir bykomende besteding beperk.
Intussen het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die LUR vir Finansies, Deidré Baartman, Godongwana gevra om beslissende maatreëls in te stel om die stygende lewenskoste te verlig. Winde sê stygende elektrisiteit- en brandstofkoste plaas toenemend druk op huishoudings en sake-ondernemings. Baartman sê die provinsie se voortgaande departementele begrotings-verpligtinge toon toenemende druk op huishoudings en belangrike dienste:
Nuus uit die buiteland:
# Die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, is gereed om onmiddellik te onderhandel vir ‘n vinnige, blywende vredesooreenkoms met Rusland. Kiëf en sy Europese bondgenote het voorstelle uitgewerk om vredespogings te bevorder, insluitend ‘n moontlike drieledige gesprek tussen die leiers van Oekraïne, Rusland en Amerika. Dit maak ook voorsiening vir die uitruil van gevangenes en ‘n maritieme skietstilstand. Zelensky herhaal geen gesprek oor Oekraïne se toekoms kan geldig of geloofwaardig wees sonder Kiëf se deelname nie:
# Krieket: Suid-Afrika het ‘n uitstekende vierde oggend beleef in die tweede toets teen Australië in Gqeberha toe die snelbouler Marco Jansen vier paaltjies laat kantel het. Australië het sy eerste beurt op drie vir een hervat nadat Kagiso Rabada gister vir Nic Maddison uitgehaal het. Dit was nadat kaptein Temba Bavuma Suid-Afrika gelei het tot 425 vir nege voor hy verklaar het. Jansen het vanoggend ontslae geraak van Travis Head, Scott Boland, Marnus Labuschagne en Matt Renshaw, en Australië het met etenstyd gesteier op 69 vir ses. Hulle is later uitgeboul vir 99.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-42-sent teen die dollar, 18-rand-43-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-183-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-115-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 112-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….