Goeie Nuus
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Mei
Goeiemiddag. Hier is jou Goeie Nuus:
# Die Italiaanse stad Napels is bo aan die lys van Time Out se twintig beste stede vir goeie kos in 2024, met die Margherita-pizza as die een wat geëet móét word. Tweede is Johannesburg met sy Kota-toebroodjie, gevolg deur Lima, die hoofstad van Peru met Ceviche. Onder die top vyf is ook Ho Chi Minh-stad in Viëtnam en Beijing in China. Time Out het duisende stedelinge oral in die wêreld uitgevra wat hulle plaaslike smulhappies is, met die fokus op gehalte en bekostigbaarheid.
# Professor Patrick Osode van die Universiteit van Fort Hare het ‘n C2-toekenning van die Nasionale Navorsingstigting ontvang vir sy uitsonderlike bydrae tot die regsveld. ʼn C2-toekenning word gegee aan ʼn persoon met ʼn bewese rekord van gehaltewerk, en wat die vermoë toon om navorsingsmetodes toe te pas. Die universiteit sê hierdie gesogte toekenning aan Osode, ʼn gerekende kenner van die Handelsreg, beklemtoon sy belangrike invloed in die regsveld.
# Sony Music beraadslaag volgens berigte om Queen se musiekkatalogus vir meer as 18-miljard-rand te koop. Die rockgroep met voorsanger Freddie Mercury wat in 1991 dood is, is bekend vir liedjies soos Bohemian Rhapsody, We Will Rock You en Another One Bites The Dust. Sony het vroeër vanjaar ook ʼn 50-persent-aandeel in wyle Michael Jackson se musiek uit sy boedel aangekoop. Sterre soos Beyoncé, Bob Dylan, Neil Young, Shakira en Barry Manilow het almal die afgelope jare hulle musiekregte verkoop.
# Die Universiteit van die Witwatersrand sê fossiele wat op die kuslyn van die Kariba-meer in Zimbabwe ontdek is, verteenwoordig ‘n heeltemal nuwe dinosourus-spesie. Die merkwaardige vonds, genaamd Musanka sanyatiensis, is slegs die vierde dinosaurus-spesie wat in Zimbabwe opgespoor is. Die oorblyfsels dateer terug na die Laat Trias-tydperk sowat 210 miljoen jaar gelede. Wits sê dit word verteenwoordig deur die oorblyfsels van ‘n enkele agterbeen, insluitend ‘n dy-, skeen- en enkelbeen.
# En ten slotte: Suid-Afrikaners word aangemoedig om vandag deel te neem aan Pantoffeldag en so ʼn verskil te maak in die lewens van kinders wat teen lewensgevaarlike siektes veg. Alle fondse wat ingesamel word, gaan aan die Reik na ʼn Droom-stigting. Vanjaar se tema is Klim in my Pantoffels, en fokus op empatie, pret en om in die skoene te staan van kinders met lewensgevaarlike siektes. Zapper se bemarkingshoof, Stephen Smith, sê hulle werk saam met Reik na ʼn Droom en mense kan die Pantoffeldag-plakker van 20-rand deur die Zapper-toepassing koop:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….