Nuus 14:00
BULLETIN 16 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Cachalia verwelkom Fannie Masemola se terugkeer as nasionale polisiekommissaris
# Die Stad Tshwane ondersoek ‘n diaree-uitbreking in Bronkhorstspruit
# En tennis: ‘n Serwiese speler word vir 24 jaar geskors weens wedstrydknoeiery
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, verwelkom die opheffing van nasionale kommissaris Fannie Masemola se tydelike skorsing nadat die aanklagte teen hom amptelik teruggetrek is. Cachalia het Puleng Dimpane bedank vir haar leierskap as waarnemende kommissaris. Woordvoerder Kamogelo Mogotsi sê Masemola se terugkeer Maandag sal help om die fokus op wetstoepassing te behou en die Polisie-herstelagenda verder bevorder, wat daarop gemik is om kundigheid, aanspreeklikheid en openbare vertroue te versterk:
Die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie eis intussen dringende regstellende optrede teen die volgehoue swakhede in misdaadondersoeke, forensiese dienste, aanspreeklikheid en finansiële bestuur in die Polisiediens. Die diens het volgens sy jaarverslag slegs 49 van sy 94 jaarlikse doelstellings bereik, met sy speurdiensprogram wat net nege uit 22 teikens bereik het. Voorsitter Ian Cameron sê as die polisie se tekortkominge nie aandag kry nie, sal dit geregtigheid vertraag en die publiek se vertroue in wetstoepassing verswak:
# Die Stad Tshwane ondersoek tussen 140 en 160 gevalle van diaree en ander maagderm-aandoenings in Bronkhorstspruit en omliggende gebiede. Die meeste pasiënte is in die Bronkhorstspruitse hospitaal behandel, terwyl ander voorvalle aangemeld is in die Mamelodi-, Steve Biko Akademiese- en die Wilgers-hospitaal. Woordvoerder Samkelo Mgobozi sê ondersoeke gaan voort en geen skakel met die watervoorraad is nog bevestig nie:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Bevel om Oekraïne se toegang tot ‘n militêre satellietstelsel te beperk, het glo uit die Withuis gekom. SpaceX se militêre satellietdiens, Starshield, ondersteun Oekraïne se oorlog-bedrywighede en hommeltuie. Die Pentagon is sy grootste kliënt, maar amptenare sê die beperkings is nie op versoek van president Donald Trump ingestel nie. Reuters haal Amerikaanse en Westerse amptenare aan wat sê dit het Oekraïense aanvalsendings ontwrig en hommeltuie vertraag wat gebruik is om Russiese aanvalle te onderskep. Daar is spanning tussen Washington en Kiëf oor Oekraïnse aanvalle op Russiese olieraffinaderye.
# Tennis: Die Serwiër Stefan Milicevic is vir 24-jaar geskors omdat hy tussen 2022 en 2024 ses wedstryde gemanipuleer en probeer het om nog ses te manipuleer. Die Internasionale Tennis-integriteitsagentskap sê die 29-jarige is ook aangekla dat hy talle beroepspelers gewerf of probeer werf het om deel te word van ‘n korrupte netwerk. Dit het daartoe gelei dat ander spelers ook wedstryde gemanipuleer het. Milicevic, wie se beste posisie op die ATP-ranglys een-duisend-338ste was, is met meer as ‘n miljoen-rand beboet en mag eers in 2050 weer mededingend speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-49-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-921-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-184-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….