Goeie Nuus
BULLETIN 21 Oktober
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Stad Kaapstad sê die 13de jaarlikse Bonsai-fees in die Kompanjiestuine was ‘n lewenskragtige viering van skeppendheid en tuinboukundige uitmuntendheid. Vanjaar se tema was Bonsai en Kuns in die Park. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste, Francine Higham, sê werke van plaaslike opkomende kunstenaars is saam met die ArtsAweh!-uitstalling aangebied. Sy sê besoekers het die unieke geleentheid gehad om kuns in ‘n natuurlike omgewing te ervaar.
# Die Departement van Infrastruktuur van die Wes-Kaap, het sy “geel vloot” vir pad-onderhoud gemoderniseer, wat die gemiddelde ouderdom van voertuie met meer as 20 jaar verlaag en die vervangingswaarde van die vloot tot 2,8-miljard-rand verhoog. Die LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê beleggings sluit in afstandmonitering, sonkrag-aangedrewe radionetwerke en nuwe masjinerie vir padskrapers, graafmasjiene en watertenkwaens:
# FNB is bekroon met vier toekennings vir uitnemendheid in kunsmatige intelligensie tydens die eerste 2025 Wêreld KI-toekennings, wat deur The Digital Banker aangebied is. Die bank sê dit is bedoel om organisasies en spanne te meet en te vereer vir deurbraak-KI-gedrewe produkte en dienste wat bedryfs-doeltreffendheid bevorder en besluitneming verbeter het met datagedrewe insigte. FNB is vereer met toekennings vir Uitstaande Gebruik van KI in Digitale Verkoopstrategie, Beste KI-gedrewe Versekeringsverskaffer, Beste KI-gedrewe Kleinhandelbank en Beste KI-gedrewe bank vir klein en medium ondernemings.
# Die Rhodes-universiteit in die Oos-Kaap het sy 14de jaarlikse toekenningsgeleentheid vir gemeenskapsbetrokkenheid gevier. Dit fokus op vennootskappe, leierskap en liefde, en vereer studente, personeel en gemeenskapsvennote wat hulle tyd, energie en skeppendheid gebruik vir projekte wat lewens verander. Visekanselier Sizwe Mabizela sê gemeenskapsbetrokkenheid is nie ‘n eenmalige gebeurtenis nie, maar ʼn lewenswyse. Hy sê die toekennings is nie net ʼn viering van prestasies nie, maar ʼn gesamentlike herverbintenis tot die idee dat Rhodes nie afsonderlik van Makhanda bestaan nie, maar as deel van die gemeenskap.
# En die Durbanse Universiteit vir Tegnologie se Departement Voedsel en Voeding het sy jaarlikse Studentetoekenningsdag aangebied. Die seremonie het studente vereer wat buitengewone toewyding aan hul studies en die waardes van die departement getoon het. Onder die top presteerders was die derdejaar-student Amanda Ngcamu, wat met twee toekennings weggestap het, die akademiese uitnemendheidstoekenning en die toekenning as die beste akademikus in voeding. Die departementshoof, Ashika Naicker, sê die toekennings is ‘n bewys van die harde werk en deursettingsvermoë van studente deur die jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….