Nuus 14:00
BULLETIN 21 Oktober 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Getuie A bevestig die soektog na Katiso Molefe se neef, Lucky, is steeds onopgelos
# Sarkozy van Frankryk word die eerste gewese EU-regeringshoof om tronk toe te gaan
# En krieket: Afridi lei Pakistan in die drie eendagwedstryde teen Suid-Afrika
# Getuie A het aan die Madlanga-kommissie gesê die soektog na die neef van die omstrede sakeman Katiso “KT” Molefe, Lucky Molefe, is nog nie afgehandel nie. Katiso word beskuldig van tenderbedrog en die moord op DJ Sumbody, en is tans uit op borgtog van 400-duisend-rand. Getuie A sê hy het in Desember die operasie gelei om Katiso in hegtenis te neem, terwyl ‘n ander span probeer het om Lucky te vind vir die moord op die ingenieur Armand Swart:
# Die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut het kommer uitgespreek oor Suid-Afrika se Geïntegreerde Hulpbronplan van twee-duisend-miljard-rand wat die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, aangekondig het. Die instituut se uitvoerende direkteur, Francesca de Gasparis, waarsku teen voortgesette afhanklikheid van fossielbrandstof, gas en kernkrag en voer veiligheidsrisiko’s en bespiegelende tegnologieë as redes aan. Sy sê die minister moet fokus op hernubare energie-oplossings soos sonkrag, wind en berging wat skoon, bekostigbaar en volhoubaar is:
# Die Suider-Afrikaanse Netwerk vir Immigrante en Vlugtelinge versoek die Departement van Binnelandse Sake om dringend stelselonderbrekings en agterstande by alle Vlugtelingontvangskantore reg te stel. Die woordvoerder, Bernard Kayitare, sê die patroon van stelselonderbrekings het ‘n meganisme vir uitsluiting geword, wat duisende mense kwesbaar laat vir inhegtenisneming en deportasie weens dokumente wat verval het en buite hul beheer is. Hy sê stelselfoute kan nie as instrumente vir uitsluiting gebruik word nie:
Nuus uit die buiteland:
# Frankryk se oudpresident, Nicolas Sarkozy, het vandag die eerste voormalige hoof van ‘n Europese Unie-staat geword wat tronk toe is, maar sy onskuld verklaar toe hy die tronk in Parys binnegaan. Hy was van 2007 tot 2012 Frankryk se regse leier en is verlede maand skuldig bevind aan pogings om befondsing van die Libiese leier, Muammar Gaddafi, te bekom vir sy verkiesingsveldtog. AFP-joernaliste het gesien hoe die 70-jarige sy huis verlaat in ‘n polisievoertuig, vergesel deur beamptes op motorfietse, en die La Sante-gevangenis in die Franse hoofstad binnegaan.
# Krieket: Die ervare bouler, Shaheen Shah Afridi, sal Pakistan in die eendagreeks teen Suid-Afrika aanvoer. Hy vervang Mohammad Rizwan, wat slegs ‘n jaar in die posisie was, nadat die land in die eerste ronde van die Kampioenebeker uitgeskakel is, gevolg deur hul eerste reeksnederlaag in die Wes-Indiese Eilande in 34 jaar. Die beheerliggaam sê die keurkomitee en die hoof-witbalafrigter, Mike Hesson, het oor die verandering in leierskap besluit. Die drie eendagwedstryde word vroeg volgende maand in Faisalabad gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-32-sent teen die dollar, 20-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-668-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-262-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….