Skip to content

Motorsport: Antonelli klop Hamilton in snelren om titelvoorsprong te vergroot, spring vandag eerste weg

# Motorsport: Die kampioenskapsvoorloper, Kimi Antonelli van Mercedes, het gister die jongste wenner van ‘n Formule Een-snelren geword toe hy Ferrari se Lewis Hamilton by die Britse Grand Prix verbygesteek het. Die 19-jarige Italianer het sy eerste snelren-oorwinning behaal met ‘n uitstekende wedren nadat hy tweede weggespring het en die 41-jarige sewemalige kampioen vir sewe van die 17 rondes gejaag het, voordat hy die voortou geneem het. Hy het nou sy voorsprong in die kampioenskapswedloop oor George Russell in die tweede Mercedes vergroot. Die wêreldkampioen, Lando Norris van McLaren, het derde in die snelren geëindig.

Later die middag het Antonelli ook in voorste wegspringplek vir vanmiddag se wedren gekwalifiseer. Charles Leclerc sal langs hom wegspring met Lewis Hamilton in die ander Ferrari derde, langs die Mercedes van George Russell. Isack Hadjar van Red Bull sal in die vyfde plek wegspring nadat hy sy spanmaat, Max Verstappen, wat sewende sal wegspring, uitgestof het. Hy is tussen die twee McLarens van Lando Norris en Oscar Piastri, wat onderskeidelik sesde en agtste sal wegspring.