# Motorsport: Williams se renjaer Alex Albon is uit die Kanadese Grand Prix snelren nadat hy tydens Vrydag se oefensessie teen ‘n bos-marmot vasgery en ‘n ongeluk gehad het. Sy span kon ten spyte van alle moontlike pogings nie daarin slaag om die motor betyds te herstel nie. Die skade was erger as wat oorspronklik gedink is en die ratkas en krageenheid moes vervang word. Die Thaise bestuurder is ‘n groot diereliefhebber en het selfs ‘n Albon Pets Instagram-bladsy vir sy katte, perde en honde.
Intussen is George Russell van Mercedes en sy spanmaat en kampioenskapsvoorloper Kimi Antonelli op die voorste ry vir die snelwedren later vandag. Die twee McLarens van Lando Norris en Oscar Piastri is onderskeidelik derde en vierde, met Ferrari se sewemalige wêreldkampioen Lewis Hamilton vyfde, met sy spanmaat Charles Leclerc langs hom.