Nuus 18:00
BULLETIN 5 Junie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa gaan die Kabinet se benadering tot die bestuur van immigrasie binnekort uiteensit
# Luitenant-kolonel Kwazikwakhe Sibiya van die Valke erken die verskuiwing van sakke kokaïen was verkeerd
# En motorsport, die Las Vegas Grand Prix bly tot 2037 op die Formule Een-program
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê president Cyril Ramaphosa gaan binnekort die nasie toespreek oor die regering se benadering tot die bestuur van migrasie. Die aankondiging kom te midde van groeiende spanning oor immigrasie en oproepe deur anti-immigrasiegroepe vir ‘n nasionale afsluiting. Ntshavheni het aan die media gesê die wetstoepassingsagentskappe is gereed om op te tree teen diegene wat die wet oortree, ongeag nasionaliteit, terwyl ondersoeke na die opstokers voortduur:
# Luitenant-kolonel Kwazikwakhe Sibiya van die Valke se Eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaad in Durban het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het destyds gedink daar is niks verkeerd met die besluit om 541 kilogram gekonfiskeerde kokaïen na Port Shepstone te verskuif nie. Kommissaris Sesi Baloyi was bekommerd dat beamptes wat die bewysstukke hanteer het, moontlik DNS- en vingerafdrukbewyse in die gedrang kon bring, al is beskermende handskoene deurgaans gedra. Sibiya het gesê sy rol was minimaal en hy het bloot ‘n opdrag uitgevoer:
# Die DA verwelkom die Spesiale Ondersoekeenheid se ondersoek na bewerings van wanadministrasie en onregmatige optrede deur die Reguleringsowerheid vir die Privaat Sekerheidsbedryf, PSIRA, en die Werkloosheidsversekeringsfonds. Die eenheid sal die verkryging en kontraktering van opleidingsdienste namens die instellings ondersoek. Ian Cameron van die DA sê staatsgeld wat werklose burgers moes help, is gebruik vir ‘n projek wat volgens alle aanduidings die mense wat dit moes bemagtig, in die steek gelaat het:
# Die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne, Gwede Mantashe, sê die bekendstelling van Suid-Afrika se nuwe aanlyn mynboulisensiestelsel vorder bestendig, met aansoeke wat nou digitaal in die Wes-Kaap verwerk word. Die Parlement het gehoor dat lesse uit die provinsie die inwerkingstelling landwyd sal bespoedig. Mantashe het ook bevestig dat die Wetsontwerp op die Ontwikkeling van Minerale Hulpbronne verfyn word voordat dit aan die kabinet voorgelê word. Die mynbousektor het verlede jaar 477-miljard-rand tot die ekonomie bygedra, met uitvoerinkomste wat tot 649-miljard-rand gestyg het en tantième wat 11,8- miljard-rand bereik het.
# Motorsport: Formule Een sal tot in 2037 in Las Vegas aangebied word na hul kontrak met tien jaar verleng is. Die beroemde Nevada Strip, wat in 2023 sy eerste Grand Prix aangebied het, is saam met Austin en Miami een van drie Amerikaanse wedrenne op die program. F1-president Stefano Domenicali sê die geleentheid het homself as ʼn gesogte bestemming gevestig met wonderlike wedrenne, vermaak van wêreldgehalte, sakeleiers van reg oor die wêreld en A-lys-bekendes. Red Bull-renjaer Max Verstappen het die wedren in 2023 en 2025 gewen, en George Russell van Mercedes in 2024.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-729-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-361-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 93-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….