Nuus 07:00
BULLETIN 6 Junie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Fitch-graderingsagentskap verhoog Suid-Afrika na BB en hou sy vooruitskouing stabiel
# Die Kabinet steun die Afrika-wye poging om die Ebola-uitbreking te bekamp
# En rugby: Die Blitsbokke bons met mening terug teen Kenia
# Die Fitch-graderingsagentskap het Suid-Afrika se langtermyngradering vir wanbetaling van BB-minus na BB opgradeer, met ‘n stabiele vooruitskouing. Hy sê die aanpassing weerspieël basies Suid-Afrika se rekord van omsigtige fiskale bestuur en vordering met fiskale konsolidasie, ondanks swak ekonomiese groei en binnelandse sowel as eksterne skokke. Fitch sê saam met bruto binnelandse produkhersienings laat dit skuld en die buto binnelandse produk laer as die verwagte vlakke toe die land in 2020 na BB-minus afgegradeer is. Hy sê Suid-Afrika het die afgelope vier jaar fiskale primêre surplusse van gemiddeld een-persent van die BBP bereik.
# Die Kabinet het Suid-Afrika se belofte van ongeveer 95-miljoen-rand goedgekeur om ‘n reaksieplan dwarsoor die vasteland te ondersteun. Dit volg na die Ebola-uitbreking in dele van die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het aan die media gesê die fondse sal bydra tot voorbereidings- en reaksiepogings regoor Afrika. Ntshavheni het Suid-Afrikaners gerusgestel daar is geen Ebola-risiko in Suid-Afrika nie:
# Die DA sê sterker polisie-ondersoeke is nodig om skuldigbevindingsyfers in seksuele oortredingsake te verbeter. Die party sê meer as helfte van die statutêre verkragtingsake in die Wes-Kaap is tussen 2020 en verlede jaar teruggetrek. Volgens polisiesyfers is 544 sake aangemeld, met 280 wat teruggetrek is en slegs 124 wat tot skuldigbevindings gelei het. Benedicta van Minnen van die DA in die Wes-Kaap doen ‘n beroep op verbeterde ondersoekkapasiteit, beter samewerking tussen polisie en aanklaers, en verbeterde opleiding vir beamptes:
# Die vakbond Solidariteit sê die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika se nuwe regulasies oor inhouddeling kan gemeenskapsradiostasies en onafhanklike inhoudskeppers negatief beïnvloed. Die vakbond vra dat die reëls opgeskort word totdat daar regsekerheid is. Riaan Visser van Solidariteit waarsku beperkings op die gebruik van onafhanklik vervaardigde inhoud kan mediadiversiteit verminder en kleiner stasies wat op inhoudvennootskappe staatmaak, benadeel.
# Rugby: Die Springbok-sewesspan het teruggebons van hul vroeëre skoknederlaag teen Groot Brittanje toe hulle Kenia Vrydagaand in die Bordeaux-toernooi met 26-5 oorrompel het. Die Blitsbokke het in ekstra tyd teen Groot Brittanje verloor en daarmee hul kanse verskraal om die Wêreldkampioenskap in te palm. Hul vertoning in die tweede kragmeting teen Kenia was egter uitstaande en hulle het die oorwinning met vasberadenheid en goeie oordeel behaal . Die Suid-Afrikaners kom vanoggend net na 11-uur teen Fidji te staan.
# En steeds by rugby sal Ierland vir nog vyf jaar oor die dienste van hoofafrigter Andy Farrell beskik, nadat hy ‘n kontrakverlenging tot 2031 onderteken het. Die 50-jarige het by die Iere aangesluit ná die Wêreldbeker in 2019 en het hulle gelei na twee Sesnasies-titels en ‘n reeksoorwinning oor die All Blacks in Nieu-Seeland. Farrell het ook verlede jaar die seëvierende Britse en Ierse Leeus in Australië afgerig. Hy sal die land nou na die volgende twee Wêreldbekertoernooie lei wat volgende jaar in Australië plaasvind en in 2031 in die VSA.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….