Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 02 Junie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die langverwagte hersiening van Motorbedryfsplan sal teen September voltooi wees. Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, verwag dat die veranderinge wat in die plan voorgestel word reeds in die vierde kwartaal toegepas sal word.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die ANC sukkel om ‘n geskikte burgemeesterskandidaat vir Johannesburg te vind vir die plaaslikeregeringverskiesing in November. Verskeie swaargewigte in die party het glo reeds ‘n benoeming van die hand gewys.

En tweedens skryf die koerant oor die 12-jarige Bint Amatullah van Krugersdorp wat tydens ‘n jagongeluk op ‘n plaas naby Ficksburg in die Vrystaat doodgeskiet is.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Rise Mzansi-LP, Makashule Gana, is verkies tot voorsitter van die Parlement se Phala Phala-ampsklagkomitee. Gana se benoeming is ondersteun deur die ANC, DA, Patriotic Alliance en Vryheidsfront Plus, terwyl die EFF, MK-party, ActionSA, National Coloured Congress, Build One South Africa, ATM en United Traditional Alliance dit teengestaan ​​het.

# Sowetan:

Berig die Stad Johannesburg sê hy beskik nie oor die fondse om op te tree teen die onwettige besetters in sowat 500 geboue in die stad nie. Daar is geen geld beskikbaar om die mense te hervestig nie.

# En The Citizen:

Skryf die Mpumalanga Departement van Onderwys het twee-miljoen-rand betaal vir die restourasie van ‘n waghuisie en wil na bewering nie nou verdere ondersoek instel of stappe doen nie, want 200-duisend-rand is herwin.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig eerstens oor ‘n bekende studenteleier van die Universiteit Stellenbosch wie se liggaam gevind is.

Dan skryf die koerant oor die vyf-jarige Ernst Groenewald van die Vrystaat wie se been na ‘n fratsongeluk op hul plaas naby Hertzogville afgesit is.

En laastens is daar nuus oor die kommer wat bestaan oor die gronderosie op Struisbaai se strand.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig daar is alle bespiegelings of Nelson Mandelabaai in die toekoms steeds die jaarlikse Iron Man-kampioenskap sal aanbied. Die toekoms van die stad as gasheer is in die weegskaal.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf oor die vullisverwyderaars in Pietermaritzburg wat aandring op salarisverhogings.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die internasionale oliehandelaar, Vitol, wat die Namibiese regering vir drie maande as die land se enigste grootmaat-petroleumverskaffer aangestel het, het voorheen miljarde bestee om ondersoeke na omkopery op te klaar.

En tweedens skryf die koerant slegs 53-persent van kinders in Namibië het geboortesertifikate, met die grootste probleme steeds in landelike gemeenskappe.