Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 01 Junie 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die ampsklagkomitee van die Parlement begin vandag met sy werksaamhede om die bewerings teen president Cyril Ramaphosa te ondersoek, nieteenstaande ‘n dreigende interdik.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eestens oor die probleme wat ontstaan het met sommigge van die Bafana Bafana-spanlede se visums wat hulle verhoed het om na Amerika te vertrek vir die Wêreldbeker. Dis allerweë as ‘n verleentheid bestempel.

En tweedens skryf die webblad twee kinders van onderskeidelik 12- en 13-jaar, is die naweek beseer in ‘n ongeluk waarby ‘n voertuig van die elektrisiteitsafdeling van Stellenbosch betrokke was. Geen verdere besonderhede is beskikbaar nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf eerstens ook oor Bafana Bafana se visum-fiasko wat verskeie spelers en lede van die ondersteuningspan raak. Die Suid-Afrikaanse Sokkerfederasie is gevra om ondersoek in te stel en diegene wat verantwoordelik is te dissiplineer.

En tweedens word berig die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, het die Amerikaanse FBI opnuut gevra om betrokke te raak by die Phala Phala-ondersoek.

# Sowetan:

Berig die ingryping van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie het Bafana Bafana se visumkrisis opgelos.

# En The Citizen:

Skryf die Stad Johannesburg, wat reeds finansiële probleme ondervind, het ‘n reuselening van vier-miljard-rand by Duitsland aangegaan om die stad se kraginfrastruktuur op te knap. Die DA het ingestem mits die bonusse en salarisse van die uitvoerende bestuur vir twee jaar bevries word.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig oor ‘n gesin wat verlede week op ‘n plaas naby Stellenbosch aangeval en beroof is. Hulle name word weens veiligheidsredes weerhou, maar die pa, ma, hul dogter en ‘n vriendin was die slagoffers. Die ma van die gesin, “Ester” sê hulle is deur die Heilige Gees beskerm.

Tweedens skryf die koerant ‘n rottweiler aan ‘n leiband wat geskrik het, het sy baas se arm verskeur.

En laastens is daar nuus oor die springstofhonde wat die naweek by Woolworths diens gedoen het na die ontploffings in die winkels verlede week.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig Nelson Mandelabaai se inwoners moet hulself gereed maak vir skerp tariefverhogings aangesien die voorgestelde begroting in warboel is.

En tweedens skryf die koerant die gemeenskap van Alexandria is woedend na die grusame moord op ‘n plaaslike seun.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die burgermeesterstryd in Msunduzi verskerp nadat daar alleweë aanvaar is dat die huidige ampsbekleër, Mzimkhulu Thebolla, nie opgewasse is vir die taak nie.

En dan word daar ook oor die Bafana-dilemma berig.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste het ‘n nuwe Registrateur van Medisyne aangestel te midde van ministeriële hervormings en ‘n Teen-korrupsiekommissie-ondersoek.

En tweedens skryf die koerant kommersiële en kommunale boere in die Omahekestreek ly reuseverliese aan die hand van veediewe. Daar is ook toenemende wreedheid met die slag van beeste en selfs perde en donkies.