Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 28 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Johannesburg-metro het skerp tariefverhogings vir sy inwoners aangekondig. Die stad se onderburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Loyiso Masuku, sê swak inkomste-invordering belemmer dienslewering.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig eerstens die omstrede Mel Viljoen het stil-stil in die land aangekom terwyl haar man Peet nog in Amerika aangehou word.

Dan skryf die webblad daar is verwikkelinge in die ondersoek na die moord op die Marais-egpaar in die Krugerwildtuin.

En laastens is daar nuus oor ‘n voormalige wenner van die Kaapstad-marathon, Sihle Makupata, wat in die moeilikheid is omdat hy buite sy wegspringplek voor die topatlete ingehardloop het.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Stad Tshwane het ‘n gekoördineerde noodreaksieplan geaktiveer voor ‘n groot beplande onderhoudsonderbreking deur die watermaatskappy Rand Water en die kragmaatskappy Eskom. Daar gaan verskeie toevoeronderbrekings oor verskeie streke wees van 29 Mei tot 2 Junie.

# Sowetan:

Lei met: “OUR TEAM, OUR PRIDE”. Die koerant se hele voorblad handel vandag oor Bafana Bafana se deelname aan die Sokker-Wêreldbeker.

# En The Citizen:

Skryf die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, se burgemeesterskomitee begin al hoe meer soos ‘n misdaadsindikaat lyk met al die lede se oortredings.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die bakkie van die Marais-egpaar wat in die Krugerwildtuin vermoor is, is in die suide van Mosambiek opgespoor. Die polisie ondersoek nou die moontlikheid dat wildstropers moontlik die moorde gepleeg het.

Tweedens skryf die koerant die polisie in Somerset-Wes is steeds op soek na die 60-jarige Rika Norris, wat verdwyn het nadat sy saam met haar hond by Lourensford-plaas in Somerset-Wes gaan stap het.

En laastens is daar nuus oor Italiaanse restaurante wat nie meer kraanwater hoef te bedien nie.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig geldvoorskieters is die jongste teiken van gewapende rowers wat nie huiwer om hul slagoffers dood te skiet nie.

En tweedens skryf die koerant ook oor Bafana Bafana.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens ook oor Bafana Bafana wat op pad is na die Sokker-Wêreldbeker.

En tweedens word berig die poliovirus is volgens berigte plaaslik in rioolwater gevind.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Het nie vandag ‘n digitale voorblad beskikbaar nie.