Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, moes bontstaan om die land se buitelandse beleid te verdedig tydens die voorlegging van die departement se begroting. Lamola sê Suid-Afrika se globale diplomasie is daarop gemik om handel, beleggings en werkgeleenthede tuis te versterk.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig met die ANC wat vyf senior lede na sy Tugkomitee verwys het, sê die party se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, oudminister Bheki Cele het self besluit om sy beweerde verhouding met die vermeende bendebaas Vusimuzi ‘Cat’ Matlala te verduidelik.

En tweedens skryf die webblad Mbalula het intussen gesê die kwessie van onwettige immigrante is nie ‘n probleem vir die ANC by die stembus nie.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n formele klag by die Landdroskommissie ingedien teen hooflanddros Tuletu Tonjeni, na aanleiding van hofverrigtinge in die saak wat Madoda Johannes Sibanyoni en ander in Kwaggafontein betrek. Joe “Ferrari” Sibanyoni en sy medebeskuldigdes word aangekla van afpersing en geldwassery.

# Sowetan:

Berig president Cyril Ramaphosa voer in regsdokumente voor die Wes-Kaapse Hooggeregshof aan regter Sandile Ngcobo het buite sy mandaat opgetree in die samestelling van die Phala Phala-verslag.

# En The Citizen:

Skryf die skuldberadingsmaatskappy, DebtBusters, sê sy jongste syfers dui daarop dat al hoe meer hoë-inkomsteverdieners in finansiële moeilikheid is.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig Ramaphosa het die Nasionale Vergadering gewaarsku teen die voortsetting van ampsklagprosedure teen hom. Hy het die vergadering in kennis gestel van sy voorneme om die howe te nader om die onafhanklike paneelverslag, wat prima facie bewyse van ernstige wangedrag gevind het, te hersien en tersyde te stel. Hy sê die Nasionale Vergadering kan nie ‘n skande bekostig nie.

En tweedens skryf die koerant met die prys van koffiebone wat daal gaan kitskoffie dalk eersdaags minder kos.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig oor die lang pad van herstel wat vir die Gamtoosvallei voorlê ná die oorstromings reuseskade aan die infrastruktuur en landboubedryf aangerig het.

En tweedens skryf die koerant oor planne om die Nelson Mandelabaai-ontwikkelingsagentskap te betrek by die instandhouding van erfenisgebiede.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf eerstens ook oor Ramaphosa se optrede teen die Phala Phala-verslag.

En tweedens word berig die staande komitee oor Openbare Rekeninge het die Msunduzi-munisipaliteit ontbied om vrae te beantwoord oor ondersoeke waarmee die Spesiale Ondersoekeenheid in die munisipaliteit besig is.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig die Eheke-onderwyskring in die Oshanastreek bestaan ​​uit 25 skole, maar slegs ’n enkele skool bied koshuisgeriewe aan net 400 leerders.

En tweedens skryf die koerant die ministerie van Gesondheid en Maatskaplike Dienste sê landelike gesondheidsgeriewe is toenemend afhanklik van buitelandse werkers.