Skip to content

Oggendkoerant-verslag

Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 22 Mei 2026:

NASIONAAL:

# Business Day:

Berig die Pula-groep wil appèl aanteken in die eis van 3,4-miljard-rand teen Patrice Motsepe se African Rainbow Capital. Die eis spruit voort uit ‘n beweerde oortreding van ‘n nie-mededingingsooreenkoms met Pula.

# Mail & Guardian:

Berig die ANC is nou op soek na burgermeesterskandidate buite die party se strukture.

# Die Papier:

Skryf die vuishou wat Nasionale Gesondheidsversekering die week in die Konstitusionele Hof gekry het, is ‘n reuseterugslag vir die projek. Daar is tans minstens 10 hangende sake teen NGV of die NGV-wet en kenners sê dit kan tot 15 jaar neem om NGV in te stel.

Tweedens word berig minstens twee van die werkers wie se salarisse na bewering deur die afgedankte minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Sisisi Tolashe, gesteel is, is familielede van haar.

En laastens is daar nuus oor die sanger Brendon Peyper se trouplanne.

# En die Netwerk24-webblad:

Berig die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, het sy leierskapsposisie in die provinsie behou. Hy is as die ANC se provinsiale sameroeper aangewys met die oog op die verkiesing.

En tweedens skryf die webblad die veroordeelde reeksmoordenaar en oudpolisiebeampte, Rosemary Ndlovu, is weer skuldig bevind. Die keer aan sameswering om ‘n moord te pleeg. Sy dien tans reeds ses lewenslange vonnisse uit.

GAUTENG:

# The Star:

Skryf Independent Media en die MK-party het die bewerings van die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum verwerp oor die voormalige Star-redakteur Sifiso Mahlangu se beweerde betrokkenheid by die stigting van MK terwyl hy koerantredakteur was. Mahlangu het na bewering bedank sonder om sy politieke planne bekend te maak.

# Sowetan:

Berig Orlando Pirates en Mamelodi Sundowns het die naweek belangrike wedstryde wat beide spanne se onmiddellike toekoms kan bepaal.

# En The Citizen:

Skryf regeringsplanne om privaat boorgate te reguleer, is bestempel as onsinnig met die moontlikheid om honderde werksgeleenthede te kelder.

WES-KAAP:

# Die Burger:

Berig die Suid-Afrikaanse Reserwebank het beslag gelê op meer as vier-miljoen-rand in die bankrekeninge van die aktivis Dan Roodt se organisasie, Praag. Volgens die bank is die geld verbeurd verklaar weens ‘n oortreding van valutabeheerregulasies. Roodt sê hy win regsadvies in.

Tweedens skryf die koerant twee vliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens het noue ontkomings in die Wes-Kaapse stormweer gehad. Die vlugte was SAA 313 en SAA 327 wat moes uitwyk en op ander lughawens land.

En laastens word berig oor ‘n LUR van KwaZulu-Natal wat sy gesig op die kant van watertenkwaens laat aanbring het.

OOS-KAAP:

# The Herald in Gqeberha:

Berig die DA in Nelson Mandelabaai het ná ‘n ondersoek bevind die plaaslike metropolisie het slegs vier werkende voertuie uit ‘n moontlike 22. Die party sê hy het planne om die diens viervoudig uit te brei.

KWAZULU-NATAL:

# The Witness in Pietermaritzburg:

Skryf die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap het beduidende stappe gedoen teen personeellede wat betrokke is by bedrog en korrupsie. Altesaam 43 is afgedank weens korrupsie en daar is hangende sake teen nog 65.

En ten slotte uit NAMIBIË:

# Republikein in Windhoek:

Berig besoekers aan Bloedkoppe in die Namib-Naukluft Nasionale Park het kommer uitgespreek oor oënskynlike mynbedrywighede wat naby die gewilde kampeerplek in die woestyn plaasvind.

En tweedens skryf die koerant wegholtreinwaens sonder ’n lokomotief het motoriste tussen Usakos en Kranzberg groot laat skrik.