Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 21 Mei 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Stad Johannesburg gaan ondersoek instel na sy finansies te midde van die Eskom-skuldkrisis van 5,3-miljard-rand. Die burgemeester, Dada Morero het onderneem om met die nasionale regering saam te werk om die elektrisiteitskrisis op te los.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens ook oor Morero se stadsrede vir Johannesburg. Hy sê die ANC het ‘n gebroke stad met ‘n infrastruktuur-agterstand van 220-miljard-rand by die DA oorgeneem.
En tweedens skryf die webblad volgens ‘n verslag van Freedom Under the Law kom die Konstitusionele Hof toenemend onder druk om sy werksaamhede af te handel.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die bestuurder van ‘n Durbanse hotel sê die rioolkrisis in die stad het ‘n negatiewe uitwerking op toerisme. Hy sê sy gaste word begroet met ‘n reuse-sinkgat vol riool. Dit volg nadat die Mahatma Gandhi-pompstasie in die Punt-gebied probleme ondervind het. Hy sê hy is ontevrede met die reaksie van die eThekwini-munisipaliteit.
# Sowetan:
Berig die adjunkburgemeester van Tshwane en streeksvoorsitter van die ANC, Eugene Modise, het aan die burgemeester-wedloop onttrek. Hy sê hy is beswadder in die ANC.
# En The Citizen:
Skryf ook Dada Morero het die skuld vir Johannesburg se ineenstorting gerieflikheidshalwe voor die deur van die DA geplaas by wie die ANC oorgeneem het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die weermag se ontplooiing teen bendes in die Wes-Kaap lewer nie resultate nie. Die lede lewe onder haglike omstandighede. Die dak van hul slaaplokaal lek, daar is geen warm water nie, die voedselporsies is te klein en daar is slegs drie toilette en geen toiletpapier nie.
En tweedens skryf die koerant president Cyril Ramaphosa se regspan het die proses van ‘n hersieningsaansoek teen die Artikel 89-paneelverslag begin. Die regspan het toestemming van hoofregter Mandisa Maya versoek om dokumente te beteken aan twee voormalige senior regters wat die Phala Phala-verslag saamgestel het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig oor ‘n motoronderdele-onderneming se werknemers wat staak oor die aflegging van hul kollegas,
en skryf daar heers kommer oor die uitbreking van varkgriep in Gqeberha.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf meer wit Suid-Afrikaners kan na die VSA op pad wees nadat die Trump-administrasie planne voorgestel het om ‘n bykomende 10-duisend Afrikaner-asielsoekers uit Suid-Afrika toe te laat, wat die vlugtelingplafon vir hierdie groep tot 17-duisend-500 verhoog.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig motoriste wat in ongelukke betrokke is, kan duisende Namibiese dollars aan insleep- en stoortariewe opdok. Dit volg ná ‘n geskil tussen insleepoperateurs en versekeringsmaatskappye oor wie die koste behoort te dra.
En tweedens skryf die koerant die Namibiese vloot het ’n buitelandse vissersvaartuig geskut wat na bewering by onwettige visvangbedrywighede in Namibië se gebiedswaters naby die Angolese grens betrokke was.